South Coast Fever

Wie is in jou span om Christus se opdrag uit te voer?

Een wou nie herskep word tot diens nie, Judas die verraaier. Wat van jou?

’n Mens kan nie kies wie saam met jou op die openbare vervoer soos die bus of die trein ry nie. Jy kan wel jou vriende of reisgeselskap kies. Wanneer jy mense kies vir ’n belangrike taak of rugbywedstryd, kies jy mos die bestes onder hulle, of hoe? Jy kies ook nie spelers om toeskouers te wees nie. Hulle moet ’n impak maak op die spel. Christus se kerk oftewel sy volgelinge, is nie deur God verkies om te sit en wag vir die bus na die hemel toe nie.
Daarvoor is die uitdagings op sosio- ekonomiese, ekologiese en geestelike gebied, spesifiek ook in ons land, te groot. Jesus se keuse van die twaalf impakspelers in Matteus 10:1-4, wou juis heling bring waar daar gebrokenheid was. Hy stuur Sy volgelinge met ’n opdrag om genesing te bemiddel vir ’n siek gemeenskap en bevryding vir mense wat in die mag was van onrein geeste wat hul lewens verrinneweer het. Dis ’n groot opdrag met baie verantwoordelikheid. Wie is daartoe bekwaam? Wie sou jy en ek kies vir so ’n groot taak?

Wat van iemand wat destyds sy eie mense uitverkoop het vir finansiële gewin – Matteus die tollenaar? Wat van Simon die Kananeër, vir wie politieke mag so alles belangrik was, dat hy daarvoor sou moor? Of wat van Judas Iskariot wat Jesus verraai het? Hoef ek nog meer te sê? Wanneer God egter mense roep tot Sy diens, transformeer Hy hulle en herskep hulle tot Sy kroongetuies.

’n Beroemde skilder kan ’n gewone doek neem en ’n beroemde skildery daarop verf. In Strasbourg, Frankryk is daar ’n kerk wat in die oorlog deur die bomme beskadig is. ’n Standbeeld van Christus daarbinne het behoue gebly. Die arms is egter deur die bomme afgeruk. Dit is nie herstel nie. Die dorpsmense het dit so gelos ter herinnering dat ek en jy Christus se hande is in ’n gebroke wêreld wat Sy genesing en redding so nodig het. Een wou nie herskep word tot diens nie, Judas die verraaier. Wat van jou?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button