Wouter se Watergat: Het jy al hondepoef in strandsand raakgevat?
Hyself is ’n groot honde-liefhebber, maar meen honde moet op alle strande verbied word.
Een van die onderwerpe van bespreking onder die vakansiegangers die afgelope paar dae was die teenwoordigheid van honde op ons strande. Gert Hanekom, ’n gereelde Oktober-besoeker uit Randburg het die bespreking begin toe hy ons vertel het van sy ondervinding op die Uvongo-strand. Hy het vroegoggend langs Lilliecronaweg afgestap, vol van die vreugdes van die lewe, afgeloop na die redelik verlate strand toe, sy handdoek neergesit, opgelet ’n man en sy hond speel ‘gaan haal die stok’ ’n ent weg, en die see binnegegaan.
Sowat 15 verfrissende minute in die water, het hy teruggestap handdoek toe. Hy het die afdrukke van hondepote in die sand om sy handdoek gesien, en toe hy die handdoek optel, gevoel dis nat. Geel honde-piepie sopnat. In die verte het hy die oortreder en sy baas sien terugstap Lilliecrona toe.
Gert was onmiddellik boos. Het die man nie gesien wat sy hond doen nie, of het hy gesien en nie omgegee nie? Hom nie probeer keer nie? Hyself is ’n groot honde-liefhebber, maar meen honde moet op alle strande verbied word. Al het hulle leibande. Ander besoekers het saamgestem, terwyl nog gemeen het leibande moet verpligtend gemaak word, wat die saak sal oplos.
Jan de Lange, ’n lewenslange Suidkusser, het vertel hy het talle kere gesien hoe eienaars met honde aan leibande, eenvoudig ontlasting met sand bedek en rustig voortstap. Hyself het by geleentheid met sy kleinkinders strand toe gegaan, en gesien hoe ‘n tweejarige outjie vies na die vars hondepoef aan sy hande kyk nadat hy in die sand gegrawe het.
Oom Pottie het daarop gewys ’n onlangse meningsopname op ’n Suidkus-Facebookmuur het getoon dat ses persent van die respondente ten gunste was van honde wat los rondloop op strande, nog ses persent totaal gekant teen die teenwoordigheid van honde op strande, en 88% ten gunste van honde op leibande, met die voorwaarde dat die eienaars die nalatenskappe optel, in sakkies plaas en wegneem.
Nie net iewers elders stilweg gaan deponeer nie. Die konsensus was dat dit die oplossing is. Mits die eienaars hul verpligting, wat nie altyd die geval is nie. Ongelukkig. Soos in baie ander lewens-omstandighede waar mense eenvoudig nie omgee nie..
Rugby was natuurlik weer druk onder bespreking. Hoe kan dit dan anders wees in ’n kuierkroeg soos dié? Dis egter pynlik vir ons Sharks-ondersteuners, ook Oom Pottie en sy mede- ‘Lions for Life’, wat periodiek kom kuier. Hierdie twee spanne is in die 13e en 15e plekke onderskeidelik op die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap, oftewel die URC. Wat gaan aan? Veral by die Sharks?
Met groot respek aan die Lions, al stem Pottie nie saam nie, ’n mens verwag dit dalk van hulle, maar van die Sharks? Met al hul talent? Dis lankal reeds ooglopend daar is groot fout by die Lions. Maar wat gaan aan by ons span? Ek het die vraag reeds voorheen gevra. Die afrigters? Die spelers?? Gelukkig vir Suid-Afrika is die Stormers heel bo aan die lys met die Bulle nie ver agter nie.
Ons loopstorie uit Pottie se argief: Wat kry jy as jy ’n windhond met ’n muishond kruis? ’n Dier wat teen ’n stink spoed hardloop.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
