Die Suidkus se ‘meestermusikant’ word 94
Hy sing opera, ‘Uberto’ in ‘La Serva Padrone’, asook die hoofrol in sy eie operette ‘Die Mooifontein se meisies’, en dirigeer die opera ‘Princess Ida’ by Wits.
Die uiters begaafde musikant, Dr Lourens Faul, wat 30 jaar gelede hier op die Suidkus kom aftree het, word Donderdag 23 Oktober 94 jaar oud. Dr Faul prestasielys is verstommend as komponis, pianis, sanger, orrelis, pedagoog. musiekoloog, en resensent. Op hierdie lys is drie sanglisensiate, twee jaar se studie in Wene, onder meer in die kunslied by die beroemde Duitse tenoor Julius Patzak, Reifeprüfung in klavierbegeleiding cum laude, en sy B Mus Hons cum laude, M Mus, D Mus en HOD.
Hy het skoolsang doseer en kore afgerig by die Hoërskool Fakkel, was departementshoof by die JHB College of Education en die Goudstadse Onderwyskollege, doseer sang en klaverkuns op Wits, ontwikkel musieklaboratoriums vir die TOD, doen professionele begeleiwerk by die SAUK, die Akademie für Musik und darfstellende Kunst in Wene, vir Opsa, en vryskut. Hy rig skool-, kollege en SAUK-kore, en die Schola Cantorum en Lyra-sangkwartet, wat hy gestig het, af.
Hy sing opera, ‘Uberto’ in ‘La Serva Padrone’, asook die hoofrol in sy eie operette ‘Die Mooifontein se meisies’, en dirigeer die opera ‘Princess Ida’ by Wits. Hy het ’n besondere liefde vir Boerneef se verse waaarvan hy ’n ruk gelede reeds meer as 300 getoonset het. In 2020 is hy deur die ATKV-tak KZN Suidkus met ’n ATKV-oorkonde vir sy groot bydraes vereer, onder meer vir die meer as 1 000 komposisies wat hy neergepen het. Hy het al sy werk aan die FAK bemaak, wat ‘n webblad daarvoor by die Voortrekkermonument beplan. Daar is nog talle ander prestasies, te veel om op te noem. Dr Faul is Duits magtig, benewens Afrikaans en Engels, en lees en verstaan Nederlands, Frans en Italiaans.
Sy eggenote, Anita, is in 2018 oorlede, en hy woon in die Village of Happiness aftree-oord. Sy dogter Anneli, wat ook hier woon, sê Dr Faul speel tuis nog gereeld op sy Dussendorfer-vleuelklavier, en onthou nog musiekstukke wat hy 80 jaar gelede geleer het. Sy liefde vir die see is steeds daar, en hy ry gereeld soontoe en stap langs die strand. Die SC Fever wens hom geluk en hoop hy het nog vele gelukkige, geseënde en gesonde jare.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
