South Coast Fever

Moenie dink jy’s beter as ander nie

Jesus nooi onwaardige en gebroke mense na Sy tafel.

Die etenstafel is ’n lekker plek om saam te kuier. Baie keer is dit een van die min plekke waar gesinne in ons besige tyd nog bymekaarkom om te gesels en dan gebeur dit nie so baie nie. In die Bybelse tye was die etenstafel simbool van gemeenskap en gasvryheid. In die Oosterse kultuur het jy mense verwelkom in jou huis as jy saam met hulle geëet het. Lukas 5:27-32 vertel van so ’n ete. Jesus eet saam met Levi, ’n tollenaar. Meer nog, Jesus roep vir Levi om Hom te volg as dissipel. Dan sien ons dat die huis skielik vol tollenaars word wat saam met Jesus kom eet. Dit is Jesus se tafelgemeenskap. Tollenaars, die veragte groep onder die Jode, die volksverraaiers. As Jesus dit doen, verklaar Hy dat Sy koninkryk se deur juis oopstaan vir sulkes.

Jesus nooi onwaardige en gebroke mense na Sy tafel. Die Seun van die mens het juis gekom om te soek en te red wat verlore is. So breek God se nuwe wêreld deur in die persoon en bediening van Jesus. Die belangrik om te onthou dat Jesus vir Levi by die tolhuis sien. Hy sien Hom raak. Nie as die veragtelike mens nie, maar as iemand wat Hy kan vorm en brei tot dienaar in Sy koninkryk. Jesus se uitnodiging dring deur na Levi se hart en maak dat hy dadelik vir Jesus volg. Hierdie was nie ’n smeekbede van Jesus om Hom te volg nie. Dit was ’n onweerstaanbare roeping tot die lewe, die ware lewe van gemeenskap met Jesus.

Dit is immers die goeie nuus dat Jesus nie gekom het om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. Dit beteken dat hierdie nie sommer ’n lekker ete was nie, maar dat Jesus Levi se lewe omkeer. Hy verander Sy lewensrigting en hy word ’n volgeling van Jesus. Ons moet nie dink ons is beter as ander nie. Dis eers as ons ontdek dat Jesus se roeping onweerstaanbaar is, dat ons ons voete om die pad sit van afhanklikheid van die Here, soos Levi ook later sou ontdek. Ware bekering is dat jou hart en huis oopgaan vir Jesus en die ander “tollenaars” saam met jou die Jesus lewe ontdek.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button