South Coast Fever

Rugby, o rugby, wat doen ons sonder jou?

Almal van ons het opinies, al weet ons niks van die tegniese aspekte van rugby, veral die reels nie.

Verlede Sondag nà die Springbokke se skitterende oorwinning oor die Franse Hane het die Pretoriusse saam met vriende om ’n middagbraai gekuier, en dit was lekker om te luister na die gesprekke oor die wedstryd, en die verskillende menings. Almal van ons het opinies, al weet ons niks van die tegniese aspekte van rugby, veral die reels nie. ’n Vriendin was nogal vies vir Rassie omdat Faf de Klerk nie gespeel het nie, ‘Hy is dan so oulik met sy wapperende blonde hare en sy Speedo’.
Ek het weereen bewus geword van hoe sentraal rugby tot talle Suid-Afrikaners se bestaan geword het. Ons stem egter nie oor alles saam nie. By Sondag se braai was daar ’n meningsverskil tussen ’n man en sy vrou oor die afwesigheid van Handré Pollard. Hulle het heftig hieroor geredeneer. Ook oor ander rugbysake. Maandagoggend lees ek ’n skryfsel van Nicolette Kritzinger van Afrikaans.com met die opskrif ‘Veroorsaak rugby ook spanning in jou huis?’ en besef dis van toepassing as ’n satiriese, wyer blik op dit wat ek die naweek ervaar het. Ek deel dit hier met erkenning aan Nicolette, effens verkort weens ruimte-beperkings:

“Verskillende dinge kan spanning in ‘n huwelik veroorsaak, maar die groootste stessor is rugby. Dis Saterdag en die Bokke speel teen die All Blacks. Arme Christien moet regstaan vir die tien gaste wat Kobus vroeër die week in ’n oomblik van passie genooi het. Kobus het in 1974 laas aan ’n rugbybal gevat. Hy hyg as hy yskas toe stap en die Springboktrui wat sy vrou in 2007 vir sy verjaardag gekoop het, bedek nou nie meer al die belangrikste plekke nie. Teen eenuur is al die versterkings reeds uitgelê en van die genooides reeds daar. Alles wat ’n hartaanval op 32 kan veroorsaak word uitgepak: biltong, droeë wors, aartappelskyfies en ’n verdagte oranje ‘chip dip’ wat niks bevat wat vrylik in die natuur voorkom nie. Ruan se kind het nou-nou daaraan geruik en het intussen al drie keer gedreig om die hond te byt. As dit nou nie vir die besering was wat Willie in graad 7 opgedoen het toe hy oor sy skooltas gestruikel het en sy kuitspier gerek het nie, dan sou hy vandag uitgedraf het in ’n Springboktrui. Hy dink nie hy is beter as Siya Kolisi nie. Hy wéét hy is. Marissa is nie hier vir die rugby nie. Sy is hier vir Pieter-Steph du Toit se bobene.

Martie en Vaatjie se seun Ruan is onlangs gekies vir die o. 7C-rugbyspan by sy laerskool. Hy sou stut in die eerste span gewees het, maar blykbaar het Nico se ouers die heining om die klubhuis geborg en toe word Ruan in die proses benadeel. Volgens Martie en Vaatjie, is Ruan die volgende Eben Etzebeth. Martie en Vaatjie het ongelukkig geneties nie die potensiaal om ’n Bok te baar nie. Dis nou maar net my opinie. Die volkslied. Kobus se hand is op sy bors. Die trane wel in sy oë op. Christien deel nie sy sentiment nie. Sy het hom die dood voor die oë gesweer dat hulle stiptelik om sewe-uur moet eet, want anders gaan sy hul DStv-pakket kanselleer en sy Faf-onderbroek vir liefdadigheid skenk. Die spel is skaars twee minute aan die gang toe breek Nieu-Seeland deur doellyn toe. Kobus se kreet is ’n oerklank wat jy nie sommer in die natuur sal teëkom nie. Drie oktawe bo die notebalk, besig om in E-mineur vir Cheslin Kolbe te verduidelik hoe mens ’n Nieu-Seelander moet tackle. “Jy kan mos nou sien dis ’n forward pass. Is die ref blind?!”

Nou, kyk, daar is twee goue reëls as dit by rugby kom. As ons wen, is dit omdat ons land eenvoudig die beste spelers ter wêreld het en omdat Rassie ’n masjien is. As ons verloor, is dit die skeidsregter se skuld. Christien begin bekommerd raak. As die Bokke vanaand verloor is die aand verby. Dan verklaar Kobus weer ’n week van rou waarin hy sy Springboktrui in koeksoda week, sy aandetes slegs in gedempte lig eet en sy onderlip begin bewe as enigiemand in sy teenwoordigheid die woord “rugby” sê. Nie hierdie keer nie. Rassie fluister-skree ’n paar oorspronklike Afrikaanse nuutskeppings in iemand se oor en voor ons ons oë uitvee, skop Manie oor en Faf duik raak. Die eindfluitjie blaas. Die wedstryd is ons s’n.

Daar was nog altyd iets aan rugby wat ek glad nie verstaan nie. Die meeste van ons weet nie eers wat die verskil tussen ’n losskakel en ’n regterflank is nie. Tog daag ons elke Saterdag op, in ons groen en goud, en skree ons ons harte uit asof ons lewens daarvan afhang. Ons praat met vreemdelinge in die ry by Spar oor die naweek se wen, ons huil saam met kennisse om ’n braaivleisvuur as ons verloor en ons koop rugbytruie ten duurste sodat ons kan voel soos Speler 23 – gereed om uit te draf as die Bokke ons nodig kry. Ek weet nie presies hoe nie, maar die Springbokke het iets reggekry wat regerings wêreldwyd al jare lank sukkel om te doen – om mense te bind. Of ons nou wen of verloor. En ek weet nie van jou nie, maar dit laat my hart nogal groen klop.” Stem saam. Dankie Nicolette.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button