Wouter se watergat: Moet Rassie nie net 14 spelers Saterdag opstuur nie?
Ons het verlede naweek weer gedoen wat ons jare gelede gedoen het. ’n Advertensiebord buite op die sypaadjie geplaas om mense in te lig dat pleks van die gewone Sondagbuffet-ete, ons kerrie en rys met al die sambals en dinge, of skaapnekbredie en rys met groente, sou bedien. Klante sou nie van die gewone kroeg-spyskaart
Ons het verlede naweek weer gedoen wat ons jare gelede gedoen het. ’n Advertensiebord buite op die sypaadjie geplaas om mense in te lig dat pleks van die gewone Sondagbuffet-ete, ons kerrie en rys met al die sambals en dinge, of skaapnekbredie en rys met groente, sou bedien. Klante sou nie van die gewone kroeg-spyskaart af kon bestel nie, en hulle kon van een van die twee eet soveel as wat hulle wou, teen R90 per kop, poeding ingesluit. Die voorwaardes was weereens dat elkeen aan tafel die bedrag betaal, insluitende kinders, en braksakkies is nie toegelaat nie.
Soos destyds, het ons Oom Pottie se resep, wat hy iewers by ’n familielid geleer het, gevolg om groot verliese te vermy indien ‘n paar groot jong manne sou opdaag. Ons het heelwat room by die kerrie en die bredie gevoeg, omdat dit, soos Pottie ons ingelig het, ‘n mens baie gouer versadig maak, en natuurlik die smaak opkikker. Die Watergat was weer vol ‘regulars’. Hulle het lekker weggelê aan vroulief se beproefde disse met room, ons is gekomplimenteer met die gehalte, en relatief min van hulle het meer as een bord kos baasgeraak. Die winsgrens was weer amper twee keer meer as met die normale Sondag-ete, hoewel die voorbereiding heelwat meer moeite geverg het, een van die redes waarom ons so lank geneem het om dit weer te doen. Nietemin, dit was die moeite werd.
Die rugbywedstryd teen Italië het uiteraard heelwat warm besprekings uitgelok, benewens die blydskap oor die Bokspan se karakter wat weereens bewys is. Franco Mostert se rooikaart het die hele Watergat warm onder die kraag gehad, want niemand kon verstaan waarom hy hoegenaamd ’n rooikaart gekry het, en nie ’n geel- of ‘n rooikaart vir 20 minute nie. Dit raak belaglik, want dit was duidelik hy het nie met die Italianer se kop kontak gemaak nie. Buitendien het die Italianer soos ’n wafferse sokkerspeler ‘gedive’ vir die effek, iets wat deesdae alhoemeer voorkom.
Die rugby-owerhede sal vinnig iets aan hierdie klug moet doen. Toe hierdie rubriek geskryf is, was daar nog ’n moontlikheid dat Mostert se straf ter syde gestel kon word betyds vir Saterdag se wedstryd teen die Iere. Iemand het voorgestel dat Rassie net ’n 14-manspan vir Saterdag se wedstryd opstuur om seker te maak die Springbokke wen. Pottie se wysheid was dat die Springbok 15-tal bo-aan die wêreld-ranglys is, hul 14-manspan in die tweede plek, gevolg deur die ander lande. Nietemin, Saterdag gaan ’n taai stryd wees. Die ander groot opwinding was die Proteas se skitterende oorwinning oor Indië in die eerste toetswedstryd op ’n ‘horribale’ kolfblad. Boonop was dit nie ons heel beste span nie weens KG se besering. Ek wonder wat dink die alewige kritici van Temba Bavuma van sy reeks skittervertonings?
Twee stoutes uit Pottie se argief: Twee Brakpanse paartjies besluit om ‘partners’ te ruil. Na ’n vrysessie vra die een ou: ‘Ek wonder wat doen die girls?’
’n Blondine doen aansoek by ’n hardewarewinkel en die eienaar vra of sy darem die verskil tussen ’n spyker en ’n ‘paper clip’ ken. ‘Glad nie,’ antwoord sy, ‘ek is nog nooit gepaperclip nie.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
