South Coast Fever

JOHAN PRETORIUS: Die skrikwekkende verwoesting in Gaza

Die Palestyne het uit Gaza, via die Ramon-lughawe in Israel, en Nairobi, sonder kennisgewing op die lughawe Oliver Tambo aangekom.

Een van die grootste nuusgebeure in Suid-Afrika die afgelope tyd was die onverwagte aankoms van 153 Palestyne sonder die nodige reisdokumentasie, en die gebeure daarna. Die Palestynse ambassade in Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse regering en ander organisasies het nou saamgewerk om die humanitêre krisis wat ontstaan het, op te los. Die Palestyne het uit Gaza, via die Ramon-lughawe in Israel, en Nairobi, sonder kennisgewing op die lughawe Oliver Tambo aangekom. Nadat hulle lank op die vliegtuig moes bly omdat hul paspoorte nie in Israel gestempel is nie. Uiteindelik het die regering verblyfsvisums vir 90 dae aan 130 lede van die groep uitgereik, en die res het na ander bestemmings vertrek.

Die ambassade het bekend gemaak die reis van die Palestyne is georganiseer deur ‘n ongeregistreerde organisasie wat die mense mislei en geld van hulle op ‘n wederregtelike en onverantwoordelike manier ingevorder het. Ondersoeke in hierdie verband gaan voort, en die organisasie Gift of the Givers het die verantwoordelikheid vir die Palestyne oorgeneem tydens hul verblyf in Suid-Afrika. Hierdie gebeurtenis het weereens bewys hoe wyd en ernstig die gevolge van die twee jaarlange bombardering van Gaza is nà die oorspronklike Hamas-aanval op Israel in Oktober 2023 wat minstens 1 200 lewens geëis het.

Intussen het die Veiligheidsraad van die VN Maandag President Trump se vredesplan vir Gaza uiteindelik aanvaar ingevolge waarvan Internasionale Stabiliseringsmag Gaza sal binnegaan, die gebied demilitariseer en regeer. Die 20 punt-vredesplan maak ook voorsiening vir ‘n ‘Vredesraad’ om die vredesplan te monitor, hoewel daar nie besonderhede bekend is oor die samestelling van die raad nie. Nou lê die ontsaglike heropbouingstaak, wat waarskynlik jare sal duur, voor. Die internet-koerant, the I Paper, berig vandeesweek oor die reuse opruimingswerk wat in die Gaza-strook voorlê. Sy verslaggewer Paul Wood verwys na die Amerikaanse skrywer.

Kurt Vonnegut, wat tydens die Tweede Wêreld-oorlog in Dresden ‘n krygsgevangene was. Nà verwoestende Amerikaanse aanvalle op die Duitse stad, is hy en ander gevangenes gedwing om ‘te gaan myn vir lyke’ in die puin van die geboue. In sy boek ‘Slaughterhouse Five’ beskryf hy die verskriklike reuk as iets soos ‘mosterdgas en rose’. In Gaza sal deur dieselfde proses gegaan moet word. Die VV sê minstens 69% van die geboue in die gebied is beskadig of verwoes. Dit sluit in 94% van die hospitale, 89% van die skole, al 12 universiteite, 92% van die elektrisiteits-opwekkingskapasiteit, 70% van die varswater- en riool-aanlegte, 79% van die moskees, en 92% van die belangrikste paaie.

Die belangrikste syfer is waarskynlik dat 92% van die wonings in rommel omskep is, en dat 1.9-miljoen mense haweloos is. Die VN se Omgewingsprogram het bekend gemaak daar is nou 17 keer meer puin as wat in vorige konflikte agtergelaat is, oftewel minstens 50.8 miljoen ton. Dit sal 105 groot vragmotors 20 jaar neem om alles op te ruim, maar daar is nie naastenby soveel voertuie of swaar meganiese toerusting op die oomblik beskikbaar om in die proses te gebruik nie.

‘n Erger probleem vir die mense wat Gaza moet herbou is egter die ‘spookagtige sending’ om die talle ontbindende lyke wat onder die rommel begrawe is, op te spoor en te verwyder, soos Vonnegut moes doen. Niemand weet presies hoeveel daar sal wees nie, maar volgens betroubare ramings is dit tussen 10 000 en 14 000. Hoewel dit ‘n uiters onaangename taak sal wees, bly die grootste uitdaging die verwydering van die rommel. Met die winter in aantog, het talle mense steeds nie behoorlike skuilings nie. Die VN het verklaar 4 000 houers vol tente, komberse en kombuis-eenhede is steeds in Jordanië, Egipte en Israel, en daar word gewag op toestemming deur om na Gaza geneem te word.

Israel sê hy het 23 aansoeke van nege verskillende organisasies om hierdie voorrade na Gaza te neem, afgekeur, omdat die hulp-organisasies nie seker maak dat die noodvoorrade nie in die hande van Hamas beland nie. Israel verbied ook sowat duisend items ‘wat vir meer as een doel aangewend kan word’ soos sement, staalpype en swystoerusting wat volgens hulle vir militêre doeleindes aangewend kan word. Voor die Hamas-aanvalle op 7 Oktober 2023 het Israel Qatar toegelaat om beton Gaza toe te stuur omdat die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, ‘n sterk Hamas wou verseker as ‘n teenwig vir die Palestynse Owerheid om die vestiging van ‘n Palestynse staat te keer. Die beton is egter gebruik in die netwerk tonnels wat deur Hamas gebou is.

Wood berig daar is nog geen geld om Gaza te herbou nie. Die Wêreldbank en die VN raam die totale koste op $70-duisendmiljoen dollar. President Trump het gehoop die ryk Golfstate sou die grootste deel hiervan bydra. Tot dusver was die reaksie swak. Die Golfstate het $1.14-duisendmiljoen dollar van die $4-duisend miljoen geskenk wat nodig is vir dringende hulp. Dis nie eens ‘n kwart van wat benodig word net vir menslike hulp alleen nie.

Dit het egter voorheen ook gebeur. Tydens die skenker-vergadering na die geweld in 2014, het lande $5.4-duisend miljoen belowe, maar slegs twee persent van hierdie bedrag is uiteindelik oorbetaal. Nog ‘n probleem is die onsekerheid oor wie presies Gaza gaan regeer. Israel verwerp enige rol vir Hamas, en is ook gekant teen ‘n rol vir die Palestynse Owerheid. Die VV-besluit is nou geneem, maat tot dusver wou Hamas nie die wapen neerlê nie.

Inderdaad ‘n ‘n ontsaglike taak wat voorlê.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button