South Coast Fever

JOHAN PRETORIUS: G20-beraad die draaipunt for SA?

Die belangrike faktor hier is die agting wat daar ooglopend vir Suid-Afrika in die wêreld is, en veral vir President Ramaphosa as persoon.

Belangrike mense het die afgelope tyd uitsprake gemaak en dinge het gebeur wat die uwe laat wonder het of hierdie veelbewoë land van ons nie by ’n tydstip in die geskiedenis gekom het waar daar skielik nuwe hoop vir die toekoms is nie. Die eerste faktor wat my in hierdie optimistiese rigting gestuur het, is die peilings wat toon die ANC se gewildheid daal steeds, en die kanse is goed dat die party in aanstaande jaar se plaaslike verkiesings ’n groot klap by die kiesers gaan kry. So groot dat talle munisipaliteite in die land nie langer onder ANC-beheer sal wees nie. Dit sal die deur oopmaak vir koalisies van verskeie partye en hulle die geleentheid bied om sukkelende plaaslike regerings weer op koers te kry. ’n Gesaghebbende peiling verlede week het selfs getoon dat ’n beduidende getal ANC-ondersteuners in Johannesburg wil hê dat die DA se Helen Zille aanstaande jaar burgemeester van die sukkelende stad word.

’n Swak uitslag vir die ANC aanstaande jaar sal ongetwyfeld ’n invloed hê onderweg na die algemene verkiesing in 2029, en veral op die toekoms van President Ramaphosa ná die plaaslike regeringsverkiesing. Dit sal egter ’n kwaai slag wees indien die ANC hom verwyder agv. ’n swak verkiesings-uitslag, want dan kan die populiste oorneem, en die party meer in die rigting van die EFF/MK stuur met die oog op samewerking/amalgamasie na die 2029-algemene verkiesing, veral as die uitslag die ANC verwoes. Dis egter ’n gesprek vir ’n ander dag.
Intussen is daar op die oomblik heelwat positiewe tekens in die land, ten spyte daarvan dat die ANC, veral sedert die staatskapingdae, hopeloos gefaal en die land, soos ’n familielid onlangs verklaar het, deur hul agterente getrek het. Die Regering van Nasionale Eenheid funksioneer volgens alle aanduidings baie goed, ten spyte van haakplekke, die ministers van ander partye as die ANC het bewys hulle is bekwaam, en instansies soos die Reserwebank en die Inkomstediens is betroubaar, stabiel en funksioneer buitengewoon goed.

Ander positiewe verwikkelinge was die begroting van minister Godongwana wat onder baie moeilike omstandighede groot lof gekry het, aanduidings dat die Nasionale Vervolgingsgesag uiteindelik optree om verdagtes, soos uitgewys deur die Zondo-kommissie, aan te kla, en die Madlanga-kommissie wat korrupsie in die polisiediens op die oomblik ondersoek en blootlê. ’n Belangrike veertjie in Suid-Afrika se hoed is die groot lof wat hy uit alle oorde ontvang het, veral van die deelnemers self, vir die sukses van die G20-beraad in Johannesburg. Die belangrike faktor hier is die agting wat daar ooglopend vir Suid-Afrika in die wêreld is, en veral vir President Ramaphosa as persoon.

Sy kritici in Suid-Afrika, en daar is met goeie redes baie van hulle weens sy regeringstyl en klaarblyklike onwilligheid om kragdadig op te tree, veral teen sy eie partylede wat droogmaak, sluk moeilik daaraan, maar sy aansien in die buitewêreld, behalwe natuurlik Amerika, is ’n realiteit. Hy het, ironies genoeg, kragdadig opgetree teenoor Amerika weens president Trump se afwesigheid en Trump se pogings om hom en Suid-Afrika te boelie, wat groot indruk op die afgevaardiges gemaak het. Voeg daarby die puik organisasie en reëlings ivm. die beraad, waarvoor hy en die land groot lof ontvang het.

In verskeie ander opsigte is daar rede tot optimisme, en dit word deur verskeie sakemanne en ekonome uitgewys. Een van hulle is die bekende en gerespekteerde entrepreneur, Adrian Enthoven, wat daarop gewys het Suid-Afrika het twee derdes van die ekonomiese vooruitgang wat tydens die eerste twee dekades na 1994 gemaak is, verloor. Enthoven het in ’n lesing aan die Universiteit van Stellenbosch verklaar daar is ’n ‘stille rewolusie’ agv. vennootskappe in die privaatsektor aan die gang. Hierdie metamorfose, het hy gesê, word aangedryf deur die organisasie Business for South Africa en sleutelhervormings deur die regering, wat gebeure soos beurtkrag verander het in hernieude vertroue in die markte. Hy het nietemin gewaarsku gevare is oorgerustheid en die ‘lokaas van populisme’. “’n Positiewe houding en ingesteldheid sal bydra tot ’n beter toekoms, en ’n brose maar nietemin vurige optimisme sal verandering bevorder”.

Die moontlike toekoms-scenario vir Suid-Afrika word myns insiens goed saamgevat deur een van die land se suksesvolste sakemanne, Christo Wiese, die sewende rykste Suid-Afrikaner met ’n geraamde R31-duisend miljoen agter sy naam. Hy het in ’n onlangse onderhoud prontuit gesê die land se koers kan binne ’n jaar ‘omgedraai word’ sodra die ANC uit die pad is. Suid-Afrika is steeds die beste land om in te bly, en daar is baie waaroor mense positief kan wees, ten spyte van groot uitdagings.

Hy sê mense vra hom dikwels wat hy van Suid-Afrika dink. Sy standaard-antwoord is: ‘In vergelyking met wat?’ Hy glo die meeste Suid-Afrikaners is goeie mense, en dit is ’n beslissende en bepalende faktor. Dieselfde kan nie van talle ander lande in die wêreld gesê word nie. ‘Suid-Afrika verskil van mislukte Afrikalande in dié opsig dat hy ’n groot, lewenskragtige, bekwame en toegewyde privaatsektor het. Watookal die regering nie kan doen nie, kan die privaatsektor baie vinning regstel. ‘Indien die regering uit die pad is, sal die land binne ’n jaar onherkenbaar wees. Al wat ons moet doen, is om van die ideologiese klippe in ons maag ontslae te raak.’

Optimistiese en bemoedigende sienings. Mag dit bewaarheid word.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button