South Coast Fever

Rugby-strafkaarte raak nou belaglik

Die groot faktor wat almal egter pla, is die onkonsekwentheid van skeidsregters.

Dis minder as ’n maand voor Kersfees 2025, en ons het reeds begin om voorrade aan te koop en ons vrieskaste te vul voor die seisoen in alle erns begin. Ten spyte daarvan dat Desember eers aanstaande week begin, is hier reeds ’n aansienlike klompie vakansiegangers, heelwat van hulle matrieks van Gauteng wat kom inloer het. Die groot klagte van die besoekers was die slegte weer, en ons het aan diegene wat nog nie voorheen in November en vroeg-Desember hier was nie, verduidelik dis normaal.

November is seker die slegste maand van die jaar wat die weer en veral reën aanbetref, en dalk ook die eerste twee weke van Desember. Die besoekers het verwys na water-onderbrekings by familielede, en dit was ook weereens die groot klagte van ons ‘locals’. Ons hou duim vas dat die rioolstelsel vanjaar nie sal faal en weer besoedeling op die strande en Margate se strandmeer veroorsaak nie.

Die gesprekke was weereens oor sake soos die Amerikaanse politiek en die G20-beraad in Johannesburg, maar ten spyte van vroulief se klagte (sy lees elke rubriek wat ek skryf ) dat daar te veel oor sport, en veral rugby, gepraat word, is dit ongelukkig vandeesweek weer die geval. Hoe dan anders na die fantastiese vertonings van die Proteas en die Springbokke? Eersgenoemde het die toetsreeks teen Indië met ’n puik oorwinning beklink nadat ons kolwers skitterend gekolf en die boulers, veral Marco Jansen en Simon Harmer, die tuisspan oorhoops gehad het. Fantasties. Dan die Springbokke wat Ierland voos geskrum het.

Oom Pottie stem nie saam met die ‘voos’ nie. Hy gebruik die woord ‘pap’. Die wedstryd is egter ontsier deur die aantal geel- en ’n rooikaarte. Van die geles was weens die Bokke se skrum-oorheersing, en die rooie myns insiens geregverdig. Die groot faktor wat almal egter pla, is die onkonsekwentheid van skeidsregters. Ook in die Bokke se vorige wedstryde. Bv. Lood de Jager en Franco Mostert, wie se kaart later na geel verander is. Saterdag het Sacha Feinberg-Mngomezulu ’n teenstander gelak en minstens ’n geel kaart verdien. Hy het bloot ’n strafskop teen hom gekry.

Die spel word daarbenewens erg deur die kaarte ontwrig, soos Saterdag gebeur het, en wedstryde word lelik. Die gevolg is daar word meer oor die kaarte gepraat as die wedstryde self. Dis nie net die skeidsregters se skuld nie. Hulle word oorlaai met tegniese reëls en gebombardeer met skare-intimidasie, grys-area situasies in talle opsigte, en spelers wat moeswillig die reëlsoortree, Iets sal gou hieraan gedoen moet word. Baie gou.

Rassie Erasmus word reeds beskou as ’n rugby-genie, soos verwoord deur Nick Mallett, en sy salaris is blykbaar in die omgewing van R1.3-miljoen per maand. Die Iere is glo ontevrede omdat hy verklaar het hy sal Jacques Nienaber graag wil betrek by sy 2027-Wêreldbekerveldtog. Nienaber se kontrak by Munster, ’n groot voedingsbron vir die Ierse span, eindig in 2027, en die Iere kla dat hy hulle intussen vir die gek hou omdat Nienaber se ‘binnekennis’ vorentoe teen hulle ingespan sal word. Nog ’n Rassie-meesterskuif?

Pottie se loopstorie:
“Wat gee jy jou ma en pa vir Kersfees, Jannie?”
“’n Lys van alles wat ek wil hê juffrou.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button