STILTETYD: Hoe het jy die jaar ervaar?
Oral word ons herinner dat die Kersfeestyd ophande is en dat die jaar ten einde snel.
Dis weer tyd om terug te kyk op die jaar wat amper agter ons is. Oral word ons herinner dat die Kersfeestyd ophande is en dat die jaar ten einde snel. As jy sou terugkyk op die jaar wat verby is, hoe sou jy jou ervaring in een sin kon saamvat of opsom? Sit so ’n oomblik terug en dink daaroor. In die Bybel lees ons van iemand met die naam Johannes, Johannes die Doper. Hy het weliswaar ’n kort loopbaan gehad, Sy pad het egter doodgeloop, of so het hy gevoel.
As hy terugkyk dan is daar verwyte in sy hart. Hy het hom daaraan gewy om die Lam van God uit te wys, Hy het die weg vir Jesus se bediening voorberei. Toe hy egter weer sien, is hy in die tronk en die despoot Herodus soek sy kop. Dit laat hom die vraag vra in Lukas 7:20: Is u die Een wat sou kom of moet ons ’n ander verwag?” Dis ’n diep geloofsvraag: Snaaks hoe vinnig sekerheid kan omsit in twyfel. Johannes twyfel nie aan God nie—hy sukkel om sy omstandighede met God se werk te versoen. Dalk sit jy in dieselfde bootjie as Johannes of was jy al daar. Twyfel word gebore uit pyn, nie ongeloof nie.
In Johannes se vertwyfeling sien ons hoe selfs die grootste gelowiges deur twyfel kan gaan. Wanneer omstandighede ons vasdruk, raak ons geestelike visie troebel. Twyfel beteken nie ons het God verlaat nie – dit beteken ons sien nie meer duidelik nie. Dit was ook Johannes se posisie. Jesus kom egter na ons toe soos Hy na Johannes toe gekom het, deernisvol en nie met verwyte nie.
Hy antwoord Johannes met ’n bevestiging: Hy, Jesus, is die vervulling van die Messiaanse profesieë. Nie deur krag of geweld, breek God se koninkryk deur nie, maar wanneer blindes sien, dowes hoor, dooies word opgewek, aan die armes word die evangelie verkondig.
Wanneer ons nie verstaan nie, moet ons terugkyk na wat God reeds gewys het: die kruis, die opstanding, die evangelie, die getuienis van God se Woord en sy dade in ons lewe. Christus kan jou vrae en twyfel dra en verdra en meer nog, jou daardeur help.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
