Dis algemeen bekend dat ek ’n groot agting en waardering het vir die skryfwerk van die bekende en beminde joernalis Dana Snyman. Daarom het ek besluit om weereens een van sy pennevrugte, hierdie keer oor Kersfees wat een van die dae weer met ons is, hier te plaas:
Die familie trek Kersdag by ons saam en Ma is vasberade. “Hierdie jaar eet ons lig. Net koue vleis en slaai,” sê sy. “Ons gaan ons nie weer so ooreet soos altyd nie.” “Ons kry seker darem poedieng,” sê Pa. “Net trifle,” sê Ma. “Nie souskluitjies nie?” Ma maak of sy Pa nie hoor nie en gaan bel vir tannie Mart en tannie Pop, haar susters. Hulle kom ooreen: net koue vleis en slaai hierdie jaar. Niks swaars nie. ’n Mens eet hopeloos te veel hier oor Kersfees.
Buitendien, dis die eerste Kersfees ná Ouma se dood. Niemand is lus vir ’n jolliefikasie nie. Vir Ma-hulle beteken koue vleis uiteraard nie polonie, ’n paar bloedarmmoedige skyfies ham en rooiworsies nie. Koue vleis is ’n skaap- en ’n varkboud en ’n beestong – ’n beestong met soet mostert. En slaai is aartappel- en wortel- en beet- en komkommerslaai. Of eintlik is dit meer ingewikkeld as dít. Daar moet twee verskillende soorte aartappelslaai wees – een sonder uie. “Uie blaas ’n mens op,” sê Oupa. Daarom maak Ma-hulle ook ’n soet, uielose aartappelslaai waarin ’n hele blik kondensmelk kom.
Die komkommerslaai is ook nie ’n vars komkommer saam met slaaiblare en ’n paar tamatieskywe nie. Dit is tannie Mart se befaamde gestolde komkommerring: twee gerasperde komkommers, ’n gerasperde ui, ’n pakkie groen jellie, maaskaas, mayonnaise, en gelatien. Alles word gegiet in so ’n ronde geriffelde bak met ’n gat in die middel. Net voordat dit op die tafel moet kom, word die bak omgekeer, dan lê die komkommerige ring daar, blink van die gelatien. Maar dan bel tannie Pop. Daar is ’n probleem. Oom Tiekie, haar man, het met ’n kalkoen by die huis aangekom. Oom Tiekie het hoë cholesterol en die dokter het gesê hy mag net hoender en kalkoen eet. Wat nou? Kan sy die kalkoen maar gaarmaak en saambring?
Eers skop Ma vas: “Ons het dan gesê net koue vleis en slaai, sus.” Maar later gee Ma toe: goed, bring dan maar die kalkoen. Kalkoen kan jy ook koud bedien.Maar Ma maak ’n fout: Sy vertel oor die telefoon vir Ouma van die koue kalkoen wat bykom. ’n Ruk later bel Ouma terug. Sy het vir Oupa van die koue kalkoen vertel en Oupa het byna ’n oorval gehad. ’n Mens eet nie ’n kalkoen koud nie.
Koue kalkoen smaak na niks. Jy stop ’n kalkoen op met ’n ui en swartpeper en dinge, bak hom in die oond en bedien hom met ’n souserige sous oor. “Ai,” sê Ma, “hier gaat ons al weer.” Want nou is daar ’n volgende probleem: Jy kan nie ’n warm kalkoen op die tafel hê net saam met slaai nie. Dit sal darem te amsalig lyk. Wat van rys? En hoekom nie sommer geelrys en rosyntjies nie? Dit is darem Kersfees, en oorle Ouma sou dit seker so wou gehad het.
En as jy rys het, moet jy darem ’n groentetjie daarby hê, minstens pampoen en boontjies. En wat van gebakte aartappels? Dis als goed en wel dat daar twee aartappelslaaie is, maar dis mos nie moeite om ’n paar ou aartappeltjies saam met die kalkoen in die oond te bak nie. Die dag voor Kersfees begin die familie by ons huis aankom: Oupa en oom Tiekie en tannie Pop, oom Tiens en tannie Mart, en die nefies en niggies. Tannie Outan en oom George is ook genooi. Die twee het mos nie kinders nie. Foei. Uit elke motor kom – saam met die ander bagasie – ook twee of drie koekblikke. ’n Mens moet tussendeur darem ’n gemmer- of ’n soetkoekie hê om aan te peusel.
Die blik wat uit Outan en oom George se Chev kom, voel of dit vol klippe gepak is, so swaar is dit. Dit is die vrugtekoek, want wie vier nou Kersfees sonder vrugtekoek? Die mans sit op die stoep, die vrouens is in die kombuis, en ons nefies en niggies speel die jaart vol. Ma kom staan by Pa op die stoep. “Is hier brandewyn in die huis?” wil sy weet. “Hoekom?” vra Pa. “Vir die trifle.” Pa trek vir Ma eenkant toe. “Ou Tiekie drink nie meer ’n druppel nie,” fluister hy vir Ma. “Moet hom tog nie in die versoeking lei nie.” Daarom besluit Ma-hulle ter wille van oom Tiekie sal hulle ook maar souskluitjies maak. “Oe, jinne,” sê Ouma laatmiddag, “ons moenie die gestoofde perskes en –pruime vergeet nie. Mammie was tog so lief daarvoor.”
Die volgende oggend, op Kersoggend, eet ons net koffie en besluit, maar ná die kerkdiens is dit tyd om tannie Outan se vrugtekoek te sny. Pa en die ooms sit op die stoep in hul kortbroeke met hul bleek bene, in die sitkamer speel Gheorghe Zamfir se panfluit oor die Hifi, en tot in die straat kan jy die kalkoen in die oond ruik terwyl Ma-hulle die tafel in die eetkamer dek. Later roep Ma: “Kos is op die tafel!” Maar op die tafel is nie plek vir al die kos nie.
Party bakke staan op ’n kleiner tafeltjie in die hoek van die eetkamer en ons moet daar gaan inskep. “Ogies,” sê Pa, dan vat ons mekaar se hande, en dan bid Pa: “Seën die voedsel aan ons liggame Vader, en seën ook die hande wat dit voorberei het. Dankie dat ons so saam kan wees. Ons dink ook vandag aan haar wat ons ontval het. Amen.” Ons eet, en ons lag en gesels en skep nog in, en later sê Ma: “Onthou tog om ’n plekkie te los vir vanmiddag se waatlemoen.” Dit ook Ma wat die volgende oggend, terwyl ons van die koue skaapboud op brood vir ontbyt eet, sê: “Dis beslis die laaste Kersfees wat ons ons so ooreet. Volgende jaar eet ons net iets ligs.”
Dankie Dana. ’n Geseënde Kersfees word jou en die lesers van die SC Fever toegewens. Mag julle die ware betekenis van die dag in hierdie deurmekaar wêreld ervaar.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page