Stiltetyd: Is jy netjies, reg, maar koud?
Dis die een ding wat ons afsluit van God se liefde en guns, ons selfgenoegsaamheid.
En toe, of dit nie genoeg is nie, laat die een wat beskuldig is dat Hy ’n vraat en ’n wynsuiper is, toe dat ’n vrou met ’n slegte reputasie, ’n sondige vrou aan Hom raak. Lees gerus die hele verhaal in Lukas 7:36-56. As ’n Joodse Rabbi destyds ’n maaltyd gehou het, was mense van buite welkom om na die wyshede uit sy mond te kom luister. Jesus was ’n genooide gas. Die gebruik destyds was dat die gasheer as teken van respek, aan sy gas ’n soen van vrede gee. Destyds is ver afstande met sandale op die stofpaaie afgelê en is die moeë gaste se voete met water gewas.
Dan was daar die slegte vrou. Sy het heel moontlik na Jesus geluister, Sy wonderdade gesien en geweet hier is iemand wat haar diepste nood kon ontmoet, wat haar kon heelmaak. Om haar nek het sy ’n duursame albasterfles vol reukolie gehad. Dit was al wat sy gehad het om te offer, haar alles. Daarmee sou sy Jesus se voete salf. Sy doen wat Simon die Fariseër nagelaat het, om Jesus se moeë voete as gebaar van gasvryheid te was. Dit was onbetaamlik vir ’n Joodse vrou om met loshangende hare in die openbaar te verskyn, maar sy was en soen Jesus se vuil voete met haar trane en droog dit met haar hare wat loshang af.
Wat sê dit van hierdie twee, die vrou en Simon se ingesteldheid, ja van jou en my ingesteldheid? Simon was nie bewus van sy diepste nood aan heel wording en vergifnis nie. Hy was immers ’n goeie mens in eie oë. Hy is selfgenoegsaam. Dis die een ding wat ons afsluit van God se liefde en guns, ons selfgenoegsaamheid. Hy kyk neer op ander en is net bewus van hul swakhede en tekortkominge. Die vrou was van niks ander bewus as haar verlange na Jesus en sy heel wording nie. Sy is oorweldig deur Sy persoon en liefde en ontvang vergifnis en verneder haarself in die proses en word so verhoog. Jesus heers nou in haar lewe. Waar staan jy? Soos Simon, netjies, reg, maar koud? Of soos die vrou, gebroke maar vry? Sola Gratia!
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
