Wouter se Watergat: Dankie tog vir sport in hierdie donker wêreld
Pottie meen wanneer Quinton de Kock ’n groot telling behaal, wen die Proteas.
Sjoe, die Watergat was die afgelope paar dae oorlopens toe vol en ons kombuispersoneel, Oom Pottie en ek moes bontstaan om toe te sien dat alles glad verloop. Gelukkig is ons gewoond aan besige tye, en baie dankbaar dat dit gebeur omdat ons deeglik bewus is daarvan dat nie alle eet- en kuierplekke aan die Suidkus gereeld sulke besige tye beleef nie. Ons vergeet soms self dat besige vakansietye broodnodig is om te vergoed vir die stiller tye van die jaar en te verseker dat die jaar-omset en -wins realisties is. So nie, sal ons ‘doodbloei’. Gelukkig oorleef ons heel gemaklik reeds 23 jaar lank, hoewel die Covid-periode in 2020 ons ’n redelike klap gegee het.
Weereens was die onderwerpe van bespreking, benewens die alleroorheersende sportgeselsies, die water-onderbrekings in Margate en omliggende gebiede, die kwaai polarisasie in Afrikanergelede tussen die ‘Afrisollers’ en die ‘Nie in ons naam nie’-groep. Ook die verskriklike skietery in Sydney. Dit bloot ter inligting, want ons vermy die negatiewe en praat weer sport wat die swartgalligheid troef. Die Protea-krieketspelers ry steeds wipplank. Verloor sleg. Wen goed. Verloor sleg. Toe hierdie rubriek geskryf is, was net drie T20-wedstryde afgehandel en ons hoop hulle voltooi die reeks met twee goeie agtermekaar-oorwinnings. Pottie meen wanneer Quinton de Kock ’n groot telling behaal, wen die Proteas. En wanneer hy misluk, verloor hulle. Ek wou dit nie glo nie, het opgecheck, en besef, wragtag, dis nogal waar.
Aan die rugbyfront het die Sharks ons aangenaam in die Kampioenebeker-wedstryd verras, selfs met die besef Saracens se span was sonder verskeie internasionale spelers soos Owen Farrell, Jamie George en Maro Itoje. Dit was ’n goeie, positiewe begin vir die nuwe afrigter, JP Pietersen, waarop gebou kan word. En my vermoede dat hy nie beter as John Plumtree sal vaar nie, verkeerd te bewys. André Esterhuizen, die kaptein in sy 100e wedstryd, ook speler van die wedstryd, het bewys hy speel nou die beste rugby van sy loopbaan. Kom ons hou duim vas vir ons manne wanneer hulle die naweek teen die Blou Bulle in ’n URC-wedstryd te staan kom.
Indien die Bulle speel soos verlede week teen die Northampton Saints, sal die Sharks wen, maar Johan Ackerman se reputasie begin nou ’n knou kry en hy sal vir seker ’n vuurwerk of twee onder sy span laat ontplof het. Oom Pottie se Lions was die dominerende span teen die Newcastle Falcons in die EPCR-bekerwedstryd, maar het tot Pottie se frustrasie in die doodsnikke verloor. Die Cheetahs het ook in dieselfde liga sleg teen Stade Francais verloor (iets erg haper iewers, dalk Frans Steyn?), maar die Stormers stoom voort met ’n goeie oorwinning oor La Rochelle. Sacha Feinberg-Mngomezulu was weer vyfster-puik. Hy gaan nog een van ons grotes word.
Ewenwel, ons kuier eers weer in die nuwe jaar saam, en ons wens al ons Watergatvriende en Feverlesers ’n geseënde Christusfees en voorspoedige nuwe jaar toe.Ons loopstorie uit Pottie se argief: Die hoof van ’n seun se skool bel sy pa en kla dat die seun deurentyd ’n las in die klas is.
Pa: “Hy is ook altyd ’n oorlas by die huis. Maar bel ek jou ooit?”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
