Johan Pretorius: SA huishoudings ervaar kwaai finansiële druk
Die algemene klagte was dat onder meer verbruikersartikels, kruideniersware, algemene dienste en vleisprodukte aanhoudend alhoe duurder word en dat gesinne se inkomste kleiner stygings, indien enige, toon.
Tydens ‘n onlangse famliebyeenkoms net voor die nuwe jaar het die gesprekke, soos gewoonlik, gehandel oor alledaagse onderwerpe, en wat ons in die toekoms kan verwag. Dit was gou duidelik daar was een groot gemene deler onder ons almal: Finansiële druk. Die algemene klagte was dat onder meer verbruikersartikels, kruideniersware, algemene dienste en vleisprodukte aanhoudend alhoe duurder word en dat gesinne se inkomste kleiner stygings, indien enige, toon.
Dit het my laat besluit om leeswerk te doen vir ‘n moontlike onderwerp vir vandeesweek se rubriek, en het ek afgekom op ‘n verslag van die Daily Investor oor die onderwerp, en in die besonder, die koste van huiseienaarskap. Shaun Jacobs skryf die aantal huiseienaars wat nie hul verbandverpligtinge kan nakom nie, neem sterk toe, ondanks betekenisvolle verlagings van rentekoerse en inflasie oor die afgelope twee jaar. Dit beteken dat Suid-Afrikaanse huishoudings steeds onder erge geldelike druk gebuk gaan te midde van ‘n stagnante ekonomie en toenemende werkloosheid. Die onwilligheid van banke om geld aan huiskopers te leen, reflekteer die druk waaronder Suid-Afrikaners verkeer, en verbandegroei is die laagste van krediet-toenames in die land. Banke is baie meer gewillig om krediet aan maatskappye toe te staan pleks van individue, en die groei in die kredietkaartbedryf was in die afgelope maande ook stadiger.
Jacobs wys daarop in die Finansiële Stabiliteitsoorsig van die Reserwebank word juis ‘n blik verskaf op die geldelike druk wat Suid-Afrikaners ervaar. In die oorsig word die finansiële stres in huishoudings en klein sake-ondernemings geïdentifiseer as een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrika se finansiële stelsel. Die bank sê die kombinasie van aanhoudende lae ekonomiese groei, hoë werkloosheidsyfers en die stygende koste van krediet oefen groot druk uit op die finansies van huishoudings.
Rieële inkomstes het in 2025 breedweg stagnant gebly, hoewel laer rentekoerse en inflasie ‘n mate van verligting gebring het, gereflekteer deur die laer koste van krediet as ‘n deel van die huishoudelike inkomste. Ondanks ‘n matige afname in die eerste helfte van 2025, toon die TransUnion-verbruikerskrediet-indeks dat daar ‘n verbetering van die huishoudelike kredietprofiele was.

Die indeks het bokant die neutrale 50-puntdrempel gebly, wat aandui dat die stadiger krediet-aktiwiteit eerder aan hoër uitleenvereistes toe te skryf is as ‘n afname in verbruikersvraag. Hoewel die lewensduurte styg, veral weens die skerp toenames in elektrisiteiispryse, munisipale tariewe en belasting, het die rieële ‘huistoeneem-inkomste’ sedert die vierde kwartaal van 2024 die impak daarvan effe versag.
Die Daily Investor sê egter ondanks die tekens van verbetering, bly die geldelike druk op Suid-Afrikaanse huishoudings baie hoog, en die data in verband met lenings aan huishoudings skilder ‘n donker prentjie. Die aantal verbruikers met swak kredietrekords bly hardnekkig hoog, en terwyl die ratio van swak kredietrekords teenoor die totale aktiewe kredietverbruikers oor die adgelope kwartale gedaal het, is hierdie verbetering hoofsaaklik te danke aan die afname in krediet-aktiewe verbruikers, pleks van ‘n afname van swak kredietrekords. Die Reserwebank meen hierdie dalende neiging toon dat groter finansiële druk vermy word weens die meer konserwatiewe uitleenvereistes van die banke.
Die grootste sektor van bekommernis is die huismark, omdat sowel huiseienaars as diegene wat eiendom wil koop, onder groot finansiële druk is. Die residensiële eiendomsmark toon nogtans steeds lewenskragtigheid, soos gereflekteer deur prys- en markkrag-aanwysers. Die aantal verband-wanbetalings neem steeds toe sedert die begin van 2023, ondanks die laer rentekoerse, wat nog ’n bewys is van die druk op huishoudings. Banke is ook onwillig om krediet aan voornemende kopers toe te staan, en die sektor vir huishoudingkrediet het slegs met 3.1% jaar-op-jaar gegroei. Dit is aansienlik minder as die korporatiewe kredietsektor, waarvan die groei met dubbelsyfers is.
Shaun Jacobs berig die hoof-ekonoom van Stanlib, Jevin Lings, het aangedui daar is verskeie komponente binne die huishoudelike kredietsektor wat nie lewenskragtig is nie, veral die huishoudelike verbandsektor. Daardie groeikoers is slegs effens bokant twee present, wat ook reeds geruime tyd die geval is. ‘Met ander woorde, ons het eenvoudig nie ‘n lewenskragtige huismark in Suid-Afrika nie. Ons sien nie ‘n betekenisvolle uitbreiding of die bou van residensiële eindomme nie.’ Volgens Lings is dit ook gedeeltelik toe te skryf aan die plat styging van eiendomspryse in baie dele van die land, die Wes-Kaap uitgesluit, wat behuisingontwikkelings onaantreklik vir maatskappye maak. Die data toon dat die huismark geen kredietgroei in Suid-Afrika aanhelp nie.
Dit wat die Daily Investor se berig betref. Ek moet erken baie van hierdie inligting en tendense verstaan ek nie mooi nie, maar wat ek wel weet, soos feitlik al my landgenote, is dat alles duurder word. My pensioen-inkomste en die salarisse van my familielede hou daarbenewens nie naastenby daarmee tred nie. Die ergste van alles is, en wat sout in die wonde invryf, is die vervaardigers en supermarkte se winste bly reusagtig. Hul aandeelhouers is doodtevrede, en hul top-bestuur verdien miljoene rande as beloning vir die winste.
‘n Tendens wat in die omstandighede nie vir my sin maak nie, is die rekordvlakke van motorverkope. Rondom my by supermark-parkeerplekke en op die paaie sien ek deesdae net nuwe motors, meesal Chinese modelle. En veral gevestigde restaurante oral in die land doen goeie sake. Is dit dalk waarom huislenings so moeilik is om te bekom?
