Wouter se Watergat: Bulle, haaie … en krokodille
Dit gaan 'n tawwe jaar wees met die gebeure in Suid-Afrika en in die wêreld, veral met die Oranjeman in die Withuis, en almal sal hul sitplekgordels moet vasmaak.
Die seisoen is verby, en ons almal slaak ‘n sug van verligting. Hierdie Kersseisoene is so nodig om finansieël te oorleef, en ons het weer genoeg besoekers gehad om die bankbalans in die nuwe jaar ‘n hupstoot te gee.
Dis bietjie laat omdat ons twee weke lank nie ‘n rubriek gehad het nie, maar almal van ons, van die kombuis tot die kelners en Oom Pottie, vroulief en myself wens ons lesers en besoekers aan die Watergat net die beste vir die nuwe jaar toe.
Dit gaan ‘n tawwe jaar wees met die gebeure in Suid-Afrika en in die wêreld, veral met die Oranjeman in die Withuis, en almal sal hul sitplekgordels moet vasmaak.
Gelukkig het ons sport om ons geestesgesondheid te help bewaar. Die groot onderwerpe van bespreking was die wedstryde in die SA T20-krieketkampioenskap, waar die sterkste spanne op papier nie aan hul potensiaal voldoen het nie, en die URC-rugbyreeks wat Saterdag hervat is.
Dis lekker om die duisende toeskouers te sien wat hulself dag na dag op ‘n krieketveld geniet en hul spanne ondersteun. Die reeks is ‘n groot sukses, met verskeie spannende wedstryde reeds gespeel. Lekker om te kyk.
Aan die rugbyfront verloor die Bulle weer, die keer teen die Stomers, wat nou bo-aan die puntelys is, en die Lions kom wragtag hierheen en klop die Sharks. Oom Pottie is natuurlik in ekstase, maar ons Sharks-ondersteuners is in sak en as. Is my stelling dat JP Pietersen nie beter sal vaar as John Plumtree nie, besig om bewaarheid te word? Ons sal moet sien. Intussen is dit wroeg, wroeg, wroeg. Veral oor die Sharks se gebrekkige verdediging..
John McGinn was die Lions se topspeler met twee driëe en aanwysing as speler van die wedstryd, en Haashim Pead se drie reg aan die einde was ‘n juweel. Die Lions het getoon hulle het deesdae verskeie uiters talentvolle spelers, en gaan nog baie spanne klop. Dis tyd dat hulle bekers begin wen. Die Lions is nou 7e op die puntelys, en die Sharks12e.
Ons loopstorie kom weer uit Pottie se argief:
Oom Koos van Mkhuze besit al donkiejare sy plasie. Skuins after die bloekoms het hy destyds vir sy kinders die plaasdam in ‘n swemplek omskep en goed ingerig met piekniektafels, braaigeriewe en vrugtebome.
Een aand, reeds sterk skemer, besluit Oom Koos in sy eensaamheid om bietjie daar by die dam te gaan sit. Hy neem toe ook ‘n emmer saam om ‘n paar van die vrugte terug te neem huis toe. Soos wat hy aangestap kom, hoor hy vroulike stemme gesels en giggel.
Hy val plat agter ‘n bos en loer deur die takke om te sien wat aangaan. Hy sien ‘n klomp naakte meisies in die dam swem. Hy stap nader en laat hulle weet hulle is op iemand anders se eiendom.
Hulle sak almal laer af sodat die water die nodige toemaak, en een skree benoud op Oom Koos: “Ons klim nie uit voordat Oom weggaan nie!”
Oom Koos antwoord: “Nee, nee, bedaar, niggie, ek is nie hier om te kyk hoe julle kaal swem nie. Ek kom net gou die krokodil kosgee.”
