South Coast Fever

Stiltetyd: Is jy bekend met verwerping?

Jesus het tyd vir elkeen wat na Hom toe kom.

’n Siekbed van 12 jaar. Dit mergel mens uit. Fisies en geestelik. Dit vra volharding in die geloof, veerkragtigheid en meer as dit, baie genade van Bo. Om dan ook nog die verwerping deur jou gemeenskap te ervaar maak die pil nog bitterder om te sluk. Daar was ’n vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Volgens Levitikus 15 was sy seremonieël onrein.

In ons Skrifgedeelte lees ons van ’n vrou wat twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Twaalf jaar lank onrein, dus geen kontak met die tempel, die kerkgemeenskap nie en ook nog verbied om aanraking te ontvang. Sy beleef dus verwerping deur haar medemens. Dis dalk iets wat jy mee bekend is, verwerping. Dan sal jy so ietsie van die vrou se dilemma verstaan.

Lukas skryf in Lukas 8:43-48 dat Jesus deur Jairus, ’n leier van die sinagoge, versoek om na sy hus te kom want sy dogtertjie lê op sterwe. Op pad soontoe het die skare Hom verdring. Daar was ’n vrou tussen die skare wat al 12 jaar aan bloedvloeiing gely het en daarbý alles wat sy besit het aan dokters bestee het. Die vrou het nie medies gehad nie, so behalwe haar ander uitdagings het ook nog finansiële uitdagings gehad. Sy is so desperaat vir genesing dat sy na Jesus toe uitreik en aan die soom van Sy bokleed raak en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.

Jesus het geweet iemand het Hom aangeraak want daar het krag van Hom uitgegaan. Jesus het tyd vir haar, vir elkeen wat na Hom toe kom. Hy is nooit te besig om na jou te luister nie. En dan sê Hy vir die vrou: “Dogter, jou geloof het jou gered, gaan in vrede.” Sy is genees nie omdat sy aan Jesus se bokleed geraak het nie, maar omdat sy haar vertroue in Hom geplaas het. Daarom spreek Hy haar aan as dogter, sy is weer volwaardig herstel in die gemeenskap. Meer as dit, sy kan in vrede gaan, want die Vredevors het haar aangeraak. Dalk voel dit vandag vir jou of die Here vêr is. Jesus weet van jou en wil jou herstel as seun of dogter van die Vader, vol vrede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button