South Coast Fever

Wouter se Watergat: Ga, wat stink so by die skiboot-klub?

Twee ‘locals’ wat anoniem wil bly kuier gereeld by die skibootklub in Shelly Beach, en sê ’n slegte visreuk versuur soms die kuiers by die klub.

Hier is ons, alreeds onderweg na die derde week in Januarie. Redelik stil, die skole het mos vandeesweek heropen, maar ons hier in die Watergat gaan ons normale gang. Vandeesweek het ons weer verskeie klagtes oor plaaslike probleme gehad, onder andere weer oor die talle langdurige water-onderbrekings op plekke. ’n Hoof-element van die klagtes is die reaksie wat gekry word wanneer dit aangemeld word.

Jan de Lange van Margate vertel hy het verlede week by Ugu gekla nadat hy verskeie kere gebel het voordat die oproep beantwoord is. Die persoon wat geantwoord het, het mooi om verskoning gevra vir die ongerief, en gevra dat Jan aanhou want hy gaan die oproep na die verantwoordelike persoon toe oorplaas. Na twee minute het die foon steeds gelui. Hy het weer gebel, en niemand het geantwoord nie. Weet nie wat die oplossing is nie. Moontlik moet ons wag vir die munisipale verkiesing later vanjaar. Die enigste probleem is hier by ons is die situasie effens anders as in ander provinsies. Waar die ANC daar klappe kry, vorder die DA en ander kleiner opposisiepartye. In KZN sit die Zuma-sirkus en wag om oor te neem. Nie ’n scenario wat enigsins vertroue inboesem nie.

’n Ander ongewone klagte is deur twee ‘locals’ genoem wat anoniem wil bly. Hulle kuier ook gereeld by die skibootklub in Shelly Beach, en sê ’n slegte visreuk versuur soms die kuiers by die klub. Hulle het dit by die klub aangemeld, en is daarop gewys dat die reuk veroorsaak word deur die oorblyfsels van vis wat deur klante van die diepsee-‘charters’ gevang en verwerk is. Hulle is meegedeel die skibootklub is nie daarvoor verantwoordelik nie, maar sal wel die boodskap aan die vissermanne oordra. Om heeltemal eerlik te wees, ons sal nie omgee indien die reuk daar voortduur nie, want dit sal meer mense na die Watergat toe laat kom. Ons is baie naby, en kry gereeld besoekers wanneer die skibootklub se restaurant vol is.

Ek hou ons sportgesels vandeesweek doelbewus kort. Om elke week te kla oor die Sharks, help nie om ons gemoedstoestand positief te hou nie. Al wat ek van Saterdag se wedstryd kan onthou is die jonger Tsitsuka-broer se skitterende drie. Asof dit enige troos is, die Stormers is ook aarde toe gebring. Seker die gevolg van B-spanne wat oorsee gaan. In die T20-krieketreeks maak die Durban Super Giants ook maar droog met hul sterre en al. Pottie is egter heel gelukkig met die Lions se spogvertonings en die Joburg Super Kings se krieket-uitslae. Dalk te vroeg wat die krieket betref. Nietemin, ek gun Pottie sy welbehae. Die pyn kom dalk gouer terug as wat hy dink.

Ons loopstorie kom van Piet Schabort van Hibberdene:
’n Verbaasde motoris sien hoe ’n motorfietsryer langs hom op sy kop op die saal van sy fiets staan teen minstens 80km per uur.
Skielik val die ryer terug op sy sitplek, ry tot reg langs die motoris en vra hom vir ’n sigaret. Die motoris, nog steeds half-geskok, sê ‘nee man, jy kan nie dit doen nie, dit gaan jou dood kos’. ‘Moenie worry nie man’, antwoord die motorfietsryer, ‘ek rook net tien per dag’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button