2026 – Die Derde Wêreldoorlog begin?
Die internasionale spanning het die afgelope jaar konstant opgebou, wat vererger is deur die tweede termyn van Donald Trump.
Die uwe is al meer as agt dekades op die aarde, en het al van die vyftigerjare as kind begin wonder of die Derde Wêreldoorlog nie om die draai is nie. Onder andere die Koreaanse oorlog, die Chinese bombardering van Quemoy en verwante aggressiewe houding jeëns Formosa/Taiwan in die laat vyftigerjare, die Suezkrisis van 1956, die Koue Oorlog tussen die Ooste en die Weste en die Kubaanse missiel-krisis in 1962, die afskiet van Francis Gary Powers van die CIA se spioenasievliegtuig oor Rusland en sy gevangeneming in 1960, die oorlog in Viëtnam in die sestigerjare, en die spanning tussen Amerika en China dieselfde tyd, die Berlynse muur en die internasionale spanning daarom heen, die oorloë tussen Israel en sy bure, die Iraanse gyselaarkrisis in 1978/79, en die konstante spanning weens die Koue Oorlog.
Toe kom Gorbachev met Glasnost en Perestroîka, en gevolglike val van die Berlynse muur, die einde van die Koue Oorlog en bevryding van die state onder die juk van die Sowjet-Unie, wat selfs hier by ons ’n skikking in Suidwes-Afrika en die ontbanning van die ANC moontlik gemaak het.
Groot was die verligting dat die wêreld grootliks bevry was van internasionale spanning, en die wêreldorde wat Amerika en Navo skep het, was vir etlike jare stabiel omdat moontlike Russiese en Chinese aggressie heeltemal onder beheer was. Toe kom Putin en begin stadig maar seker om Rusland se vorige glorie te probeer herwin, wat onder andere uitgeloop het op die anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 en die inval in die Oekraïne drie jaar gelede. Intussen het Israel verwoesting in Gaza gesaai nadat Hamas meer as 1 200 Isaelis gedood en sowat 300 lede van sy veiligheidsmagte gesneuwel het.
Die internasionale spanning het die afgelope jaar konstant opgebou, wat vererger is deur die tweede termyn van Donald Trump. Selfs sy ondersteuners kan nie ontken dat hy ’n groot rol in die huidige onstuimige wêreldorde speel nie. Hulle sê hy kry dinge gedoen, laat hom nie rondstoot nie, en is onder meer ’n groot faktor in die stryd teen die liberalisme en die handhawing van Christelike en behoudende waardes. Trump het die internasionale spanning verhoog met onder andere sy tariefbeleid, aanval op Iran se kern-aanleg, aanspraak op Kanada as toevoeging tot Amerika, die ontvoering van die president van Venezuela, en sy oogmerk om Groenland deel van Amerika te maak, selfs al is dit met geweld. Intussen het erge onrus in Iran opgevlam en het die Amerikaanse president gedreig om militêr in te gryp. Teen die tyd dat hierdie rubriek gepubliseer word, het hy dit dalk reeds gedoen.
In hierdie stadium van my lewe besef ek hierdie genoemde gebeure kan uitloop op nog ’n groot, gewapende konfrontasie. Die rede waarom ek besluit het om vandeesweek daaroor te skryf, is ’n berig wat die veteraan-joernalis van die BBC, John Simpson, geskryf en aan my gestuur het. Ek het hom in die sewentigerjare by die SAUK in Aucklandpark leer ken toe hy hier gestasioneer was en ons onder meer beeldmateriaal uitgeruil het. Ons is feitlik dieselfde ouderdom, soos ekself, is hy steeds aktief as ’n joernalis, en is hy hoog-aangeskrewe weens sy jarelange ondervinding oral oor in die wêreld sedert die sestigerjare. Hy skryf hy het oor meer as 40 oorloë verslag gedoen, gesien hoe die Koue Oorlog sy toppunt bereik, en skielik verdwyn. Hy het egter nog nooit so ’n kommerwekkende jaar soos 2025 ervaar nie. Nie noodwendig omdat daar verskeie ernstige konfrontasies aan die gang was nie, maar omdat een van hulle van ongeëwenaarde geopolitiese belang is.
Simpson verwys na die waarskuwing van president Volodymyr Zelenskyy dat die huidige konflik in sy land kan uitloop op die Derde Wêreldoorlog. Hy het ’n slegte gevoel dat Zelenskyy korrek is. Navo-regerings is reeds op volle gereedheid en op die uitkyk vir tekens dat Rusland die ondersese kabels waarmee die Westerse gemeenskap aan die gang gehou word, sny. Daarbenewens word Rusland daarvan beskuldig dat sy hommeltuie die verdedigingsvermoë van die Navo-lande toets. Russiese kuberkrakers is besig met die ontwikkeling van meganismes om ministeries, nooddienste en groot korporasies in hierdie lande lam te lê. Simpson berig owerhede in die Weste is oortuig daarvan Rusland se geheime dienste vermoor of probeer afvalliges wat na die Weste gevlug het, elimineer Hierdie moorde word deur president Putin persoonlik goedgekeur.
In die verlede was die Supermoondhede versigtig om gelokaliseerde konflikte nie te laat ontaard in ’n kern-oorlog nie, sê Simpson, maar in 2026 sal president Putin, wat deeglik kennis geneem het van Donald Trump se belangeloosheid oor Europa, vir seker meer dominant wees. Hy het reeds verklaar hy beplan nie ‘n oorlog teen Europa nie, maar indien Europa wil, sal Rusland onmiddellik gereed wees. Hy wil ooglopend Rusland se vorige invloedsfeer hervestig. Putin is dankbaar dat iets gebeur het wat die meeste Europese lande as ondenkbaar beskou het. ’n Amerikaanse president het sy rug gedraai op ’n strategiese stelsel wat sedert die Tweede Wêreld ’n geslaagde stabiliserende faktor was. Die vraag is of die alleenlas op Europa nou nie te groot gaan wees nie. Simpson verwys na verskeie ander faktore, waarvoor daar nie hier ruimte is nie, en in die besonder China se moontlike optrede insake Taiwan. Wanneer gaan China meen die Weste is so verswak dat hy die eiland kan inval?
Ons kan van net een ding seker wees. Veiligheidsgordels vasmaak. HKGK.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
