Stiltetyd: Moenie vrees nie, God is by jou
Ons lees in Josua 1 van ’n hele volk en hul leier Josua wat by ’n oorgang in hul lewe gekom het.
Tussen die duiwel en die diép blou see. Dis hoe mens soms voel as jy voor moeilike keuses in die lewe te staan kom. Jy kan nie meer omdraai nie, die jare het dalk aangestap. Die toekoms is ook nie so lekker uitgespel nie. Daar word soms gesê dat ons in ’n VUCA (volatile, uncertain, complex, ambiguous) wêreld leef.
Soms voel ’n mens dat die eise wat aan jou gestel word te hoog is. Ons lees in Josua 1 van ’n hele volk en hul leier Josua wat by ’n oorgang in hul lewe gekom het. Oorgange is deel van die lewe. Van dagsorg na skool, van enkeling na getroud wees, van werk en verandering van werk, van wortels uittrek. na aftree, sterf. Daar is vele oorgange om te maak. Oorgange gaan ook gepaard met verlies.
Die mense van wie ons lees in Josua 1 het vrygekom uit Egipte en veertig jaar in die woestyn rondgeswerf. Nou is hul geliefde leier op wie hulle staatgemaak het, dood en staan hulle voor die beloofde land wat hulle moet inneem. Die volk en Josua het te doen met verliese maar voor hulle wag daar was ’n nuwe toekoms, opwinding oor wat wag maar ook huiwering, onsekerheid oor die toekoms. Dit is verstaanbaar dat mens soms huiwer voor ’n nuwe uitdaging soos om te trek, besluite te neem oor jou gesondheid, oor jou werk, oor jou loopbaan.
Ook Josua wat die opdrag ontvang om ’n gesoute leier soos Moses se skoene vol te staan huiwer voor die toekoms. Terug kan hulle nie. Voor hulle is ’n land vol reuse en versterkte stede. Drie keer moet die Here hom vermaan om sterk te wees.
In Josua 1:9 staan daar: “Wees dapper en sterk. Moet nie paniekbevange wees of jou laat afskrik nie.” Belangrik is egter die motivering en grond waarop hy en die volk kan vorentoe gaan. “Die Here jou God is by jou oral waar jy gaan.”
Dit is elke gelowige se anker vir vandag en môre. God is by jou. En Jesus, die Josua en leidsman van ons verlossing het beloof om by ons te wees tot die voleinding van die wêreld. God se leiding en teenwoordigheid neem angs weg.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
