South Coast Fever

Wouter se Watergat: JP Pietersen: ‘Ons het hulle gebêre’

‘Ons het hulle gebêre, iets waarmee ons die afgelope tyd gesukkel het. Ons was die laaste tien minute van die wedstryd meedoënloos, en ons moet voortbou op die vertroue wat dit geskep het’.

Aan die sportfront het die Sharks ons harte verbly met ’n goeie oorwinning teen Clermont Ferrand in die Kampioenebekerkompetisie. Dit het egter nie veel gehelp nie want hulle is nie in die laaste sestien nie en moet nou konsentreer op EPCR-reeks, ten spyte daarvan dat hulle twee van hul poelwedstryde gewen het, iets wat normaalweg genoeg is.

Daarenteen is die Blou Bulle wel deur, nadat hulle slegs een van hul groep gewen het. Die afrigter, JP Pietersen, was bly oor die manier waarop die Sharks gewen het. ‘Ons het hulle gebêre, iets waarmee ons die afgelope tyd gesukkel het. Ons was die laaste tien minute van die wedstryd meedoënloos, en ons moet voortbou op die vertroue wat dit geskep het’. Kom ons hoop dit gebeur wel, want in die volgende twee weke speel die Sharks teen die formidabele Stormers tuis en in Kaapstad. Wedstryde wat sal toon of die Sharks uiteindelik hul volle potensiaal bereik het.

Ons het die afgelope week met groot bekommernis op die TV-nuuskanale gekyk na die hartseerskade wat die oorvloedige reën aan die Krugerwildtuin en omliggende gebiede aangerig het. Ons was verstom om te sien dat Letaba, een van ons gesin se gunstelingkampe, totaal oorstroom is. Rondawels en ander hutte, die restaurant, en administrasiegeboue minstens tot met vensterbankhoogte onder water. Die skade moet enorm wees. En dis maar een kamp. Van die ander meer noordelike kampe is ernstig beskadig, onder meer Shingwedzi. En wat van die paaie en brûe? Die Parkeraad het juis ’n geldtekort, en dis moeilik om te glo die herstelwerk agv. die totale skade gaan sonder probleme en vertragings verloop.

Voorts het dinge maar hul normale gang gegaan in ’n tradisioneel stillerige maand waartydens kredietkaarte wat in Desember ‘ge-max’ is, ’n groot rol speel. Soos gebruiklik, was daar die gewone klagtes, hoofsaaklik weens water-onderbrekings, en Oom Pottie het ’n klagte van sy eie oor iets anders gehad. Hy moes dokter toe vir ’n ouderdomskwaal, (hy is reeds by die negentig), en sy mediese fonds het slegs ’n klein deel van die koste betaal.

Ook die medisyne by die apteek was nie ten volle gedek nie. ‘Ek raak moedeloos, Woutie. Lyk my ek lewe te lank. Soos jy weet is my pensioen nie baie groot nie, een van die redes waarom ek hier by jou werk. Die mediese kostes is besig om buite beheer te raak. Maar ek dank die Vader ek het ’n mediese fonds’. Inderdaad. Vroulief en ek het ook ’n fonds, en is gelukkig dat ons kinders reeds uit die huis is, maar ons sukkel ook met bybetalings. Nietemin, ons het ’n fonds en ek kan my nie voorstel hoe gesinne met kinders daarsonder kan klaarkom nie. Daarbenewens is die koste van gewone medisyne reeds hemelhoog.

Ons loopstorie is vertel deur Santa Immelman ’n besoeker uit Gauteng:
’n man met net R200 stap in by ’n restaurant en bestel ’n voorgereg, hoofgereg, nagereg en ’n bottel wyn. Die rekening is oor die R600 en hy deel die kelner mee hy kan nie betaal nie.
Die kelner roep die bestuurder, en die bestuurder ontbied die polisie. Hulle neem hom na die aanklagtekantoor toe, waar hy hulle die R200 aanbied om hom vry te laat. Hulle doen dit. Probleem opgelos.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button