South Coast Fever

Wouter se Watergat: Skaam julle, Ugu! Swak! Swak!

‘Ons sukkel, Wouter, ons sukkel’, was die kommentaar van die 82-jarige Jan Bezuidenhout van Hibberdene.

In hierdie weeklikse rubriek het ek talle kere reeds oor hierdie Suidkus-probleem geskryf. Moet dit weer doen. Talle van ons besoekers die afgelope week, veral uit die woongebiede noord van Port Shepstone, het hier kom lafenis soek en terselfdertyd hul griewe gelug. Ons is meegedeel sommige van die gebiede, onder meer Hibberdene en Pumula, het in daardie stadium amper twee weke lank nie water in hul krane gehad nie. Mense van Margate en die omliggende woongebiede wat gedink het hul situasie is erg, het toegegee hulle weet nie hoe ’n huisbewoner, veral diegene sonder ’n swembad of Juju-tenk, so lank sonder water kan klaarkom nie.

‘Ons sukkel, Wouter, ons sukkel’, was die kommentaar van die 82-jarige Jan Bezuidenhout van Hibberdene wat ’n geneesheer moes besoek en hier aangedoen het om ons oor die krisis in te lig. ‘My vrou en ek is nie meer jonk nie, ons kinders bly ver, en dis ’n gesukkel dag na dag. Ons bure help met water uit hul swembad vir die toilet. Kan jy jou voorstel hoe sukkel twee oues van dae soos ons, skete en al, om onsself te was, die toilette te spoel, kos te kook, en ons binneshuis-plante aan die lewe te hou omdat ons nie by die tenkwaens kan uitkom wanneer hulle wel opdaag nie?’ Inderdaad. Al wat Ugu doen, is om aanhoudend verskonings te maak. Dis dringend tyd vir ingryping van buite.

Die ligpunt van die week was die Sharks se indrukwekkende oorwinning oor die Stormers. Dit was lekker om te sien hoe die Stormers se tjank in ’n propvol stadion in Kaapstad afgetrap word. Dit was asof die Stormer-toeskouers nie geglo het wat hulle sien nie. Pottie meen dit was net betyds ‘want die Stormers-ondersteuners het begin raak soos die destydse Bloubul-manne met die horing-hoede en die Sharks-mense van so vier, vyf jaar gelede. ’n Goeie dosis arrogansie, en netsoos die Bulle en die Sharks, aarde toe gebring’. Ek stem saam. Ons hoop hulle kan die naweek dieselfde doen op Kingspark, anders is dit ‘back to square one’ vir JP Pietersen wat sal wil wys hy vermag wat John Plumtree nie kon doen nie. En my in die proses verkeerd bewys.

Die teleurstelling van die maand, en hoe minder ons daaroor sê, hoe beter, was die swak vertoning van die Durban’s Super Giants in die SA T20-krieketkompetisie. Die eienaars van hierdie franchise kan nie tevrede wees met die mislukking van hul span met ’n klomp internasionale supersterre in hul geledere nie. Nietemin, geluk aan die Sunrisers Eastern Cape met hul derde titel in vier jaar. Welverdiend.

Ek sluit af met een uit Pottie se argiewe:
’n Ou oomie lê in die hospitaal. ’n Jong, blonde verpleegster kom ingetrippel met sy mediese verslag in die een hand en skeergoed in die ander.
‘Môre oom, af met die broekie vir my!’
‘Wat bedoel jy, nursie? Wat wil jy maak?’
‘Ek wil jou skeer, oupa, want jy word mos vandag besny,’ antwoord sy geduldig.
‘Nonsens!’ gil hy benoud, ‘ek is hier vir ’n oog-operasie’.
Die nursie verloor haar humeur.
‘Kyk oupa, ek het nie tyd vir nonsies nie. Hier staan dit in die verslag: Verwydering van die horingvlies’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button