South Coast Fever

Stiltetyd: Oorgange in die lewe vra geloof

Soms is dit nodig om dinge net in ’n ander raampie te plaas en die oorgang te sien as ’n geleentheid om ’n nuwe lewensverhaal te skryf in ’n nuwe seisoen in jou lewe.

Oorgange of koersaanpassings is deel van die lewe, hetsy dit die verandering van werk, adres of verhouding status, of lewensfase is. Oorgange kan onsekerheid by mense wek en elkeen hanteer oorgange in sy of haar lewe anders. Dikwels behels oorgange dat mens afskeid moet neem van gister en dit is dikwels ’n lang proses. In sulke tye moet mens nie te hard op jouself wees nie, want ontwrigting is nie altyd maklik om te bestuur nie.

Soms is dit nodig om dinge net in ’n ander raampie te plaas en die oorgang te sien as ’n geleentheid om ’n nuwe lewensverhaal te skryf in ’n nuwe seisoen in jou lewe. Belangrik ook is dat gelowiges mag glo dat God by hulle is in elke oorgang van die lewe. Het Jesus Christus nie self gesê dat Hy met Sy kinders is tot die voleinding van die wêreld nie?

In Josua 3 lees ons dat die volk Israel by ’n oorgang in hulle geskiedenis gekom het. Agter hulle die woestyn. Voor hulle is die beloofde land. Onder hulle voete is die bruisende Jordaan wat in die tyd gewoonlik in vloed was. In hulle midde is die verbondsark wat simbool was van die teenwoordigheid van die Here. Die merkwaardige vers in Josua 3:13 tref mens dadelik: “Wanneer die voete van die priesters wat die ark van die Here, die Heer van die hele aarde dra, in die water van die Jordaan tot rus kom, sal die water van die Jordaan, die waters wat van bo kom, afgesny word en in een massa opdam.”

In oorgange vra God nie wat kan julle doen nie, maar wie volg julle?” Die rivier wyk nie voor die priesters instap nie. Die pad maak oop terwyl hulle gehoorsaam is. Oorgange vra geloof wat sê: “Here, ek sien nie die hele pad nie – maar ek vertrou U genoeg om die volgende tree te gee.” Dalk is jy by ’n oorgang in jou lewe. Jy voel onseker en magteloos. Onthou dat die God van Josua by jou is en voor jou uitgaan. Jesus Christus, God se Seun is by jou in die oorgang al voel jy bedreig. Hy is die Leidsman en voleinder van ons verlossing en lewe.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button