Wouter se Watergat: Ek was verkeerd oor JP – en verheug daaroor
Ek is nie ’n ekspert nie, bloot ’n gewone ondersteuner, en mense nader aan die vuur sal waarkskynlik beter weet.

Ek het vandeesweek werklik probeer om oor iets anders te skryf as rugby om vroulief tevrede te stel, maar wanneer klagtes oor die gebrek aan water steeds geldig bly maar afgesaag begin raak, daar nie genoeg plek is om hoegenaamd sinvol te skryf oor wat alles in Amerika en die wêreld aan die gebeur is nie, en enige opmerking daaroor tesame met die woelinge rondom Afriforum/Soilidariteit gereeld op ’n woorde-oorlog uitloop, en die Sharks trap die voorheen onoorwonne Stormers vir die tweede Saterdag in ’n ry, watter ander keuse het ek? Veral omdat Oom Pottie my tot vervelens toe daaraan herinner het ek het dit op rekord gesê ek glo nie JP Pietersen sal regkry wat John Plumtree nie kon doen nie.
Na verlede Saterdag moet ek erken ek was verkeerd. Hy het my werklik verbaas. Ek het so ’n vermoede ander mense ook. Insluitend homself. Wat sou die redes wees? Ek is nie ’n ekspert nie, bloot ’n gewone ondersteuner, en mense nader aan die vuur sal waarkskynlik beter weet. Wat egter duidelik is, en joernaliste het ook reeds daaroor geskryf, is dat Plumtree die korrekte besluit geneem het om opsy te staan. Hy het blykbaar ’n ruk gelede al jn private gesprekke verklaar hy dink Pietersen is ’n puik afrigter. Voeg daarby Pietersen se besluit om André Esterhuizen die kaptein te maak, en Nick Hatton, die Curriebeker-kaptein, te betrek. Esterhuizen was die grootste deel van verlede seisoen se tweede helfte beseer, en Plumtree kon hom nie kies nie. Pietersen het blykbaar ook veranderings aangebring aan die span se oefenmetodes.
Rugbyskrywers wys daarop die Sharks se aanvalstrategie is nog nie wat dit moet wees nie, maar hul spel is baie meer georganiseer en klinies, en JP was verheug oor die ‘brutale spel’ van sy manne toe geleenthede om punte aan te teken, daar was. Die verwagting is dat hy later vandeesmaand as die permanente afrigter aangestel sal word, en dat Plumtree in ’n raadgewende hoedanigheid behou sal word. Ons moet net hoop die Sharks se oplewing duur voort, want indien daar weer ‘n kwaai insinking kom, sal daar min nuwe antwoorde wees. Ons moet natuurlik nie vergeet dat die Storers se twee nederlae nie net aan die Sharks se se goeie spel toegeskryf kan word nie. Die Kapenaars het by tye sleg drooggemaak, met Warwick Gelant se klassieke blaps die beste voorbeeld. Kom ons kyk wat gebeur wanneer die Sharks teen ’n ander topspan te staan kom.
Oom Pottie se span, die Lions, het hom weer teleurgestel. Erg. Hulle speel soms briljant, net om weer, soos Saterdag teen die Bulle, wat die Johannesburgers onlangs nog goed op Loftus opgefoeter het, uit die bus te val. Hulle het opwindende spelers, maar ek is bevrees, Cash van Rooyen en sy span moet na sewe teleurstellende seisoene opsy staan. In ’n ander franchise sou dit lankal gebeur het.
Ons loopstorie kom weer uit Pottie se argief:
“Ma, die seuns by die skool wil die heeltyd hê ek moet wawiele maak vir hulle!”
Ma: “Moenie dit doen nie, hulle wil net jou panty sien”
Dogtertjie: “Ek weet, dis hoekom ek hom in my tas bêre.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
