Johan Pretorius: Trump: Steun hom of verpes hom, hy maak golwe
Ook hier in Suid-Afrika word daaglikse bekgevegte oor hom op die sosiale media gevoer waarin mense mekaar in skerp taal slegsê.
Min internasionale politici, indien enige, maak soveel emosies gaande soos president Donald Trump van die VSA. Sy volgelinge is amper fanaties in hul ondersteuning van hom. Daarenteen verfoei sy teenstanders hom en word hy allerweë beskou as die grootste polariseerder van die Amerikaanse gemeenskap in die geskiedenis. Wêreldwyd is daar sterk gevoelens oor hom omdat sy beleidsrigtings en uitsprake die hele bestaande wêreldorde versteur het. Ook hier in Suid-Afrika word daaglikse bekgevegte oor hom op die sosiale media gevoer waarin mense mekaar in skerp taal slegsê.
Met bg. in gedagte, het die uwe verskeie betroubare internasionale nuusbronne geraadpleeg. Dis duidelik die gedissiplineerde optrede van Trump in die vroeë maande van sy tweede termyn, toe goed-saamgestelde uitvoerende opdragte Washington en Amerika se prioriteite in die wêreld verander het, is nou bloot ’n herinnering. Die mees kontroversiële Amerikaanse president in menseheugenis word alhoemeer gedryf deur sy persoonlike voor- en afkeure.
Die afskaffing van USAID, die verskeie veranderings aan die federale regering en die veldtog teen die sg. Ivy League-universiteite was wel kontroversieël, maar dit was die gevolg van ’n rasionele strategie wat saamgestel is gedurende die vier jaar ná Trump se eerste termyn. Deesdae speel sy wisselende gemoedstoestand ’n groter rol, en word hy meer ekstreem. Sy brose humeur in Washington, in teenstelling met sy meer ontspanne houding tuis in Florida, word alhoemeer beskou as ’n bedreiging, iets wat ook sy partygenote bekommer. Hoe ver hy bereid is om te gaan in sy strewe na dominansie sal afhang van die spanning tussen sy sterkman-uitbarstings en die plaaslike en internasionale realiteite wat hom gereeld inkatrol. Trump het verlede week wydverspreide woede en verontwaardiging veroorsaak met ’n spoprent op sy Truth Social van Barack en Michelle Obama se koppe op aap-liggame. Republikeinse druk het hom genoop om dit te verwyder. Hy sê iemand anders het dit geplaas en weier om verskoning te vra.
Trump het onlangs rooi vlae laat wapper deur te vra dat verkiesings genasionaliseer word. Dit word gesien as ’n poging om te verhoed dat die Republikeine swak vaar in die komende middel-termynverkiesings in November. Hy het vir die soveelste keer herhaal die verkiesing van 2020, wat hy verloor het, was ‘gekook’. Iets waarvoor daar nêrens bewyse gevind kon word nie. Groot onsekerheid het ook ontstaan oor die status van sy anti-immigrasieveldtog, nadat twee Amerikaanse burgers deur federale ICE-agente in Minneapolis doodgeskiet is. Trump het gevra vir ’n ‘sagter aanslag’, na sy vroeëre aandrang dat wetstoepassing gemilitariseer moet word.
Die konsentrasie op sy nalatenskap gaan intussen voort met pogings om sy naam oral aan te bring. Hy dring daarop aan dat die Dulles-lughawe en New York se Penn-spoorwegstasie na hom vernoem word. Hy het reeds die JFK-kultuursentrum ter nagedagtenis aan die vorige president se naam laat verander na die Trump Kennedy Centre. Amerikaanse kommentators wys daarop daar is tye wanneer Trump konvensioneel optree, soos sy pogings om medisynepryse te verlaag. Die indruk by sy kritici bly egter dat hy meer besorgd is oor sy eie belange en nie omgee vir die lot van gewone kiesers nie. Trump het die naweek in ’n TV-onderhoud verklaar hy is trots op die ekonomie, en ’n onwaarheid verkondig dat hy die pryse van kruideniersware laat daal het.
Die politieke koste van hierdie impulsiewe obsessie van Trump met homself word alhoe duideliker. In ’n gesaghebbende menings-opname verlede maand het slegs 36% van die respondente gemeen die president se prioriteite is reg, teenoor die 45% aan die begin van sy termyn. Slegs een derde van die respondente glo Trump gee om vir mense soos hulle, teenoor die 40% in Maart verlede jaar. Die swakste syfers van sy presidentskap.
Sekere van sy administrasie se beleidsrigtings het ’n betekenisvolle vlak van beplanning en verwesenliking getoon, soos die ontseteling van president Nicholas Maduro van Venezuela. Die chaos en onvoorspelbaarheid soortgelyk aan dié tydens die Covid-pandemie tydens sy eerste termyn, neem egter toe. Een herhalende tendens vanjaar is die president se kontroversiële kommentare en beskuldigings oor sekere sake, waarna sy amptenare dit moet regverdig. ’n Goeie voorbeeld is sy obsessie met Groenland wat NAVO groot probleme besorg het. Ook sy aanhoudende heffing van tariewe. Die Groenland-episode het egter getoon selfs Trump word gekonfronteer deur internasionale en Amerikaanse realiteite. Europese teenstand en Republikeinse ontevredenheid oor sy Groenland-strategie het hom gedwing om sy eise te laat vaar na sy besoek aan Davos in Switserland.
Die spanning tussen Trump se strewe na meer ongekontroleerde mag aan die een kant, en die oorblywende politieke en grondwetlike beperkings aan die ander, sal ongetwyfeld ’n groot rol in hierdie verkiesingsjaar speel. Die verkiesing sal toon of die kiesers Trump wil vasvat of nog beweegruimte gee. ’n Belangrike vraag is of hy hul demokratiese besluit sal aanvaar. Niemand weet wat Trump volgende gaan doen nie. Sy kritici meen hy weet waarskynlik self nie. Waarvan daar wel sekerheid is, is dat die twis oor die rol van ICE in die beheer van immigrasie in die onmiddellike toekoms nog groot politieke onenigheid gaan veroorsaak.
Daar is nog baie perspektiewe waarvoor daar hier nie plek is nie. Trump se ondersteuners sal ongetwyfeld met baie van bg. nie saamstem nie. Hoe dit ookal sy, daar kan geen meningsverskil wees oor feit dat die Amerikaanse, en die internasionale politiek, kwaai stormagtige tye tegemoet gaan nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page

