Wouter se Watergat: Pyn en lyding op Ellispark
Ek het toe wel op Ellispark gesit en ervaar hoe my span deur die Lions opgerol is.
Verlede week was rugby nie in hierdie rubriek ter sprake nie, en was die hooftema die waterdilemma. Vandeesweek ignoreer ons die water en hoop die probleem verdwyn.
Oom Pottie het my oortuig om saam met hom Johannesburg toe te ry vir die wedstryd tussen die Sharks en die Lions. Ek was teësinnig, maar hy sê toe ewe vol bravado: “Jy het nog nie die ervaring gehad van ’n Lions-span wat jou Sharks, met al hul fênsie spelers, op Ellispark ’n goeie loesing gee nie. Is jy ’n man of ’n muis?” Nou kyk, ’n muis was ek nog nooit, selfs nie ’n dapper een nie. Ons is terstond Vrydag Johannesburg toe.
Pottie het met sy dogter in Germiston, (hy wil niks van die naam Ekurhuleni weet nie), twee aande se slaapplek gereël, en ons het agt-uur met sy 1984-Toyota Cressida in die pad geval. Elke keer wanneer ek in hom ry, beïndruk hy my alhoe meer. Kersierooi, blink gepoleer, met feitlik geen skrapie te sien nie. Binne nog splinternuut, egte leer, outomatiese ratkas met ’n sessilinder-enjin, net onder 90-duisend kilometer op die ‘klok’, kragtig en stil. Een groot plesier. Die negatiewe sy is die brandstofverbruik, en die mense by die vulstasies wat hom wil koop.
By Ellispark die volgende dag was dit weer opmerklik hoe vervalle die omgewing is, en hoe relatief min toeskouers daar was vergeleke by ander stadions tydens soortgelyke wedstryde. Pottie was in sy element en het my weereens vertel hoe hy as skoolkind en later speler vir Simmer en Jack daar uitgedraf het. Wat ek ook nogmaals besef het, daar is ’n spesiale ‘vibe’ in die stadion, wat verklaar waarom dit steeds ’n ikoon in Suid-Afrikaanse rugby is, veral met toetswedstryde wanneer dit vol is.
Julle kom waarskynlik agter ek het nog niks oor die wedstryd gesê nie. Wat kan ek sê? Ek het toe wel op Ellispark gesit en ervaar hoe my span deur die Lions opgerol is. ‘Soos kitsgras,’ het Pottie dit ingevryf. Ek moet sê, wanneer die Johannesburgers goed is, is hulle goed. Die Sharks het moedig probeer, maar benewens die talle foute, was hulle redelik doelloos. JP Pietersen het na die wedstryd gesê sy span het leierloos gelyk. Dis nie ’n verskoning nie, maar die Sharks kon nie hul sterkste span kies nie weens die bepalings dat topspelers ruskanse moet kry.
Dalk het hulle te veel Springbokke gekontrakteer? Hoe dit ookal sy, geluk aan die Lions. Ek was veral beïndruk met die spel van Morne van den Bergh, en Jurenzo Julius van die Sharks. My pyn en lyding het Saterdagaand met ’n braai in Germiston, en tydens die terugrit Sondag, voortgeduur, want Pottie het geen geleentheid laat verbygaan om die Lions se oorwinning in te vryf nie. Kan nie wag om weerwraak te neem nie.
Oom Pottie se storie by die braai Saterdagaand.
Meraai: “Gatiep, moet djy nie dink dat djy by die hemel se poorte sal ingaan as djou asem so na drank stink nie.”
Gatiep: “Daa’s ’n technical point van hemel toe gaan wat djy nie wiet nie. My asem gaan nie saam nie, ek blaas hom mos hier uit.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
