South Coast Fever

Wouter se Watergat: Waarheen vir die Sharks nou, afrigter JP?

Dit lyk my ek was tog reg.

Een van die groot besprekingspunte hier by ons die afgelope paar dae was die hernieude sluiting van die brug oor die Umzimkhulu-rivier tussen Port Shepstone en Umtentweni. Die groot klagte was nie soseer die sluiting van die brug nie, maar die feit dat motoriste nie weer gevrywaar is van tolgeld vir die gebruik van die snelweg nie. Die galbrakery deur ons besoekers is te verstane.

Toe die brug verlede jaar die eerste keer gesluit is, is daar ná talle vertoë uiteindelik besluit om motoriste tegemoet te kom, en die kwytskelding is herroep toe een laan van die brug oopgestel is onderwyl herstelwerk nog aan die gang was. Nou is alles omver gewerp omdat een van die partye in die herstelproses nie betaal is nie, ooglopend omdat iemand iewers verbrou het en die nodige betalings nie gedoen is nie. Volgens ‘n verklaring van die Ray Nkonyeni-munisipaliteit is die onderneming wat die verkeer op die brug beheer nie deur die hoofkontrakteur betaal nie, en het hulle die brug weer gesluit. Die hoofkontrakteur wag vir betaling deur die provinsiale Departement van Vervoer, wat op sy beurt nie deur die provinsiale tesourie betaal is nie. Die munisipaliteit het wel verklaar die betalings sal binnekort realiseer, en alles moontlik word gedoen om die probleem vinnig op te los. Maar intussen betaal ons weer tolgeld.

Die onbekwaamheid van hierdie land van ons se regeringsdepartemente ken werklik geen perke nie. Kom ons hoop die regstellingsproses begin aan die einde van die jaar met die plaaslike regeringsverkiesings. Suid-Afrika kan eenvoudig nie so voortfoeter nie.

Ek wil nie na nog ‘n geploeter verwys nie, maar ek moet. Ongelukkig. Die Sharks. Daar gaan staan hulle en verloor weer. Dié keer teen die Bulle. Dit lyk my ek was tog reg. JP Pietersen sit met dieselfde probleem as John Plumtree. Die Springbokke se spelpeil by die Sharks is nie naastenby wat dit moet wees nie. Onder andere. Die spelers maak foute. Speel soms sonder drif. Ons kan net hoop Pietersen en sy manne kan vorentoe ‘n haas uit hul hoed trek, so nie gaan ons Sharks-ondersteuners aanhou wroeg, en hy self wonder of hy nie ook die pad sal moet vat nie. Oom Pottie sê hoewel hy geen Shark-ondersteuner is nie, is hy vol vertroue JP sal homself uiteindelik vestig. Hy het reeds bewys hy kan resultate kry. Ek hoop so.

Hy is natuurlik in die wolke oor sy Lions met hul spogvertonings die afgelope tyd en bekroon as die wees van die Suid-Afrikaanse Skild van die Verenigde Kampioenskap. Uiteindelik weer silwerware vir die Johannesburgers. Pottie wou nik sê toe hy gevra is of Cash van Rooyen nou maar kan aanbly as hul afrigter nie. Aan die krieketfront hou ons duim vas vir die Proteas wie se lot duideliker sal wees wanneer hier rubriek verskyn. Hulle het werklik met spogvertonings vorendag gekom met spelers wat om die beurt met deurslaggewende bydraes vorendag kom wanneer die nood druk. Ek hoop dit het gister weer gebeur.

Ons loopstorie kom uit Pottie se argief: Meraai gaan vir ‘n werks-onderhoud. Beampte: Het jy getik op skool? Meraai: Nei meneer, ons het net papsak gedrink en dagga gerook daai jare.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button