Stiltetyd: Onthou van wie jy afhanklik is
Mens hoor sommer die oormoed as hulle in Josua 7:3 sê: Moenie al die manskappe die moeite aandoen om daarheen te gaan nie, want daar is maar min mense.

Oormoed, oormatige selfvertroue, roekelose gedrag, hoogmoed voor die val. Dit gebeur soms dat mense oormatig staatmaak op hul eie insigte, of ’n bedreigende situasie onderskat. Dalk het jy al jouself hieraan skuldig gemaak. Israel, leer Josua 6 ons, het die magtige vestingstad Jerigo ingeneem op God se bevel. Hulle het nie veel gedoen nie behalwe om om die stad te loop en skree en ramshorings te blaas. Die oorwinning was die Here s’n. Dan lees ons in Josua 7 dat hulle volgende strategiese doelwit ’n dorpie met die naam Ai was. Mens hoor sommer die oormoed as hulle in Josua 7:3 sê: Moenie al die manskappe die moeite aandoen om daarheen te gaan nie, want daar is maar min mense.
Hier sien mens ’n goeie voorbeeld van oormoed. Hulle onderskat die bedreiging. Hulle reken dat omdat hulle eenkeer ’n magtige stad ingeneem het die kleine dorpie AI ’n ou vulletjie is. Hulle raadpleeg nie die Here nie. Wat hulle misgekyk het vanweë hulle oormoed was dat God aan hulle die oorwinning gegee het. Verder was daardie probleem van Agan wat teen die Here gesondig het toe Jerigo ingeneem is. Hy het van die oorlogsbuit vir homself geneem was verbode was, vanweë gierigheid. Hy neem wat aan God behoort. Die sonde van een het ’n effek op die hele volk se verhouding met die Here. Die sonde van een lei tot skade vir ’n hele familie.
Wat leer ons uit Josua 7? Ons leer waaksaamheid en afhanklikheid. Waaksaamheid is om nooit te vergeet van wie jy afhanklik is nie. Ons leer om nie te dink dat jy onoorwinlik is nie. Dit sluit nie geloof uit nie. Israel het egter nie op die Here vertrou nie, maar op hul eie krag. Daai uitdaging kan ek self hanteer. Die Bybel, die apostel Paulus herinner ons in die Nuwe Testament dat hy wat staan moet oppas dat hy nie val nie. Die plek van Israel se vernedering word vallei van Agor genoem, plek van ongeluk. Dalk het jy jouself in die ongeluk gestort vanweë oormoed. Vertrou jouself en jou dwaasheid aan die Here toe. Hy begin voor met jou vandag. Hy vergewe sewentig maal sewe keer.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
