South Coast Fever

Onderwysers knak onder uitmergelende stres

Deesdae word onderwysers opgesaal met administratiewe take, nuwe reëls en regulasies en neem dit soms soveel tyd in beslag dat die werklike opvoedingstaak agterweë bly.

Oupa en Ouma Pretorius het die voorreg om gereeld met ons drie kleinkinders te sosialiseer en met hulle oor allerhande onderwerpe te gesels. Dikwels handel die gesprekke oor hul onderwysers, en aldrie van hulle stem saam dat hul onderwysers om verskeie redes soms onder groot druk verkeer. Veral Oupa kry ook die geleentheid om by sportbyeenkomste met onderwysers te gesels, en dikwels verwys van hulle na die stres waaraan hulle dikwels blootgestel word.

Juis daarom is my belangstelling vandeesweek geprikkel deur ‘n berig oor hierdie onderwerp wat deur Afrikaans.com aan my gestuur is. Dis geskryf deur Annelie van Jaarsveldt, en sy verwys na die amper 70% van Suid-Afrikaanse werknemers wat sukkel met stres, en hoe talle van hulle uitbranding ervaar. Een van die beroepe waar dit alhoemeer ondervind word, is die onderwys. Sy wys daarop in die verlede was daar dissipline in skole, dis nie bevraagteken nie, ouers was betrokke, maar het hulle min met die besluite op die onderrig- en sportvlak ingemeng.

Dinge het egter verander – en baie daarvan ten goede – maar daarmee saam het die onderwyslandskap ook verander. Deesdae word onderwysers opgesaal met administratiewe take, nuwe reëls en regulasies en neem dit soms soveel tyd in beslag dat die werklike opvoedingstaak agterweë bly. Onderwysers moet nou ook twee keer dink voordat hulle ’n kind dissiplineer en konflik moet grootliks vermy word. Oorvol klasse met leerders uit verskillende agtergronde en leerbehoeftes – die sogenaamde inklusiewe klaskamer – dra verder by tot die probleem en dit is soms haas onmoontlik om orde te handhaaf en kennis oor te dra. Geen wonder dan dat soveel toegewyde onderwysers liewer ander weivelde soek nie.

Van Jaarsveldt beklemtoon dis daarom so belangrik dat ons met deernis en begrip na ons onderwysers sal omsien, want sonder hulle lyk die toekomsprentjie redelik donker. Sy verwys na ‘n artikel van Netwerk 24 aan die einde van verlede jaar waarin gevra word hoe lank ons onderwysers sonder ernstige gevolge nog so kan aangaan. Dr Marelize Vergottini, ‘n senior lektor in maatskaplike werk aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is dit eens, en sê in die artikel dat dit ’n krisis is wat nie langer onder die mat gevee kan word nie. Sy erken dat onderwys nog altyd ’n veeleisende beroep was, maar dat die huidige toedrag van sake beslis nie bydra tot die emosionele welstand van ons onderwysers nie – daardie mense wat ‘die ruggraat vorm van ons onderwysstelsel en een van die belangrikste rolle in die toekoms van ons kinders speel’.

Volgens Vergottini is een van die grootste uitdagings die werklading waaraan onderwysers blootgestel word. Onderwysers se taaklys is so lank dat daar nie genoeg tyd is vir behoorlike onderrig nie. Behalwe die gewone take soos lesbeplanning, assesserings, buitemuurse aktiwiteite en meer, verhoog die onderwysdepartement se ‘klem op aanspreeklikheid en prestasiemeting onbedoeld die druk op onderwysers’ en word daar na skool ure baie tyd bestee aan administratiewe take sodat daar min tyd oorbly vir rus of ’n gesinslewe. Boonop voel die eindelose vorms invul, verslae saamstel en dies meer dikwels sonder betekenis en is dit nie verteenwoordigend van dit wat werklik in die klaskamer plaasvind nie.

In baie skole is klaskamers oorvol en omdat daar nie onderskeid gemaak word tussen leerders en hul spesifieke leerbehoeftes en emosionele of gedragsuitdagings nie, word onderwysers verder blootgestel aan stres. Daar is dikwels ook ’n gebrek aan hulpbronne en spesialisondersteuning. Dit lei weer tot frustrasie en ’n gevoel van magteloosheid. Individuele aandag en gehalte onderrig kan nie plaasvind nie en daar heers oor die algemeen chaos.

Dr. Vergotti verwys na ‘die olifant in die vertrek’ en verklaar leerders se sogenaamde regte en gebrek aan verantwoordelikheid en genoeg respek veroorsaak dat dit dikwels onmoontlik is om behoorlike dissipline te handhaaf. Dit is gewoonlik enkele leerders wat die chaos veroorsaak, maar ongelukkig ly almal daaronder – juis omdat daar nie genoeg ondersteuning is om die skuldiges vas te vat nie. Beter onderwys berus op die welstand van sy onderwysers. Daarom moet daar gepoog word om klaskamers kleiner te maak, die administratiewe pligte van onderwysers af te skaal, en voldoende opleiding en ondersteuning te verskaf.

Afrikaans.com het met onderwyskundiges gesels om hulle mening oor hierdie kwessie te kry, en gee riglyne oor hoe om stres te herken, en te hanteer. Een van hulle is Wilna van Rooyen, ‘n vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON). Sy beaam dat inklusiewe onderwys beslis ’n bydraende faktor vir uitbranding is. ‘Die eise wat ekstra take betref, eis ‘n tol, bv. onderwysers moet deesdae bydra tot die opvoeding wat higiëne van die leerders betref, hulle moet die ouer se taak oorneem om die leerders van dissipline te leer, respekvolle gedrag moet ingeoefen word, eise wat ouers stel, is ook ‘n groot faktor’. Wat sport betref, vereis ouers soms in watter posisie en watter span ‘n kind moet wees.

Dis veral die eise wat buite die kurrikulum lê, wat die onderwysers uitput. Administratiewe take plaas verdere druk op onderwysers. Onnodige aftiklyste en gedurige bewyse van assessering wat gelewer moet word, eis baie tyd en dit beperk onderrigtyd, wat weer ‘n ander soort spanning veroorsaak.

Verskeie ander kundiges lewer in Afrikaans.com se berig waardevolle raad en insette oor maniere om hierdie stres teen te werk, waarvoor daar hier nie ruimte is nie. Gaan gerus na Afrikaans.com vir die volledige berig. Dis werklik die moeite werd.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button