Wouter se Watergat: Wanneer Quinny misluk, verloor Proteas
Verloor is een ding, maar kapitulasie iets heel anders.
Dit was maar ’n baie stil week, met die grootste teleurstelling in ’n lang tyd die loesing wat die Proteas in die eindronde van die T20-Wêreldbeker-kriekettoernooi van Nieu-Seeland gekry het. Ons kon ons oë nie glo nie. Toe Quintin de Kock en Ryan Rickelton uit is voordat daar tien lopies op die telbord was, het Oom Pottie verklaar ‘dis verby Woutie. Wanneer Quinny in ’n Protea-wedstryd nie lopies kry nie, verloor ons. Kyk maar’. Dit was wraggies toe ook so.
Verloor is een ding, maar kapitulasie iets heel anders. Ons manne was nooit in die wedstryd nie. Ons het die volgende dag beter gevoel toe ’n krieketkenner ons ingelig het die loot het ’n belangrike rol gespeel. Daar was ’n groot negatiewe doufaktor aanvanklik teenwoordig wat die baanblad beïnvloed en die Proteas laat sukkel het. Dis waarom hulle deur die Indiërs ingestuur is. Nietemin, die afrigter Shukri Conrad het erken ons manne het ’n ‘sn*tklap’ gekry.
Ons sal aanstaande week Sesnasies-rugby gesels, en ek deel ’n storie, nie nuut nie, van Koos Badenhorst van Johannesburg: Karooboere onderweg na die Kruger-wildtuin, so 25 jaar gelede, het eers ‘mix’ en rookgoed op ’n dorpie gaan soek, en kortpad deur ’n stuk jagkonsessiegrond naby die wildtuin gery. By ’n droeë rivierbedding het hulle op drie leeus afgekom. Die geneesheer onder hulle het sy videokamera uitgehaal, en begin afneem.
Skielik kom daar ’n man van agter hulle kombi op sy fiets aangery. Hy het wit North Star-tekkies aan met sy pet agterstevoor op sy kop, en ’n sonbril. Sy groot blink lawaai- masjien met ’n lang lugdraad het ook nuwe batterye, hy is op ‘full volume’ en haastig.
Hulle probeer keer maar die man sien dan hy is op kamera. Watwou! Hy staan regop in die saal en laat wiel met mening. Skielik is hy tussen die leeus. In die middel van die pad lê ’n wyfie op haar rug. Die vlieë pla haar, sy lê en kap na hulle, en haar stert lê reguit in die pad.
Die man ry oor die wyfie se stert, en vat die oorkantste wal soos ’n ‘scrambler’ met wit merke op die grond soos sy agterband ‘spin’. Hy kyk om en al wat jy sien is ’n paar groot wit oë agter die sonbril. Die wyfie het seker groter as hy geskrik, amper in die lug omgedraai om op haar pote te kom en so ’n halfhartige poging agter hom aangewend.
Later vang hulle die man amper by die dorp en in sy swak Afrikaans vertel hy stotterend hy het nooit gedink om te ‘pose’ vir ’n video-kamera sou hom so na aan sy dood sien omdraai nie. Hulle het onmiddelik ’n dop saam met hom gaan drink, en die dokter het die man ’n fooitjie gegee vir sy ‘Oscargehalte-rol’ in ’n videoproduk in die bos.
Ons loopstorie kom uit Oom Pottie se argief: Gatiep, moet djy nie dink dat djy by die hemel se poorte sal ingaan as djou asem so na drank stink nie. Gatiep: Daa’s ’n technical point van hemel toe gaan wat djy nie wiet nie. My asem gaan nie saam nie, ek blaas hom mos hier uit.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
