South Coast Fever

Stiltetyd: Die Here maak alles nuut

Jy kan leer uit die situasie en opstaan en voor begin.

Terugslae in die lewe kan op verskillende maniere hanteer word. Mens kan in sak en as gaan sit en jou verknies oor wat gebeur het. Jy kan aan beweeg asof niks gebeur het nie. Jy kan leer uit die situasie en opstaan en voor begin.

Josua 8 vertel vir ons van ’n nuwe kans wat Israel ontvang het na die nederlaag by Ai. Ai was mos die plek waar hulle hul eie vermoëns oorskat het en die bedreiging onderskat het. Daarbý was dit die plek waar een van hulle die Here se bevele oortree het en ’n hele volk het daaronder gely.

Die gevolg was ’n nederlaag en geestelike knou wat hulle toegedien is. Die volk het hulle egter voor die Here verootmoedig en die skuldige het sy straf gekry.

Tog leer Josua 8 ons hoe God ook gelowiges se nederlae en foute kan omskep in ’n nuwe begin. Josua 8 vertel vir ons hoe Ai uiteindelik ingeneem en vernietig is. Dit vertel vir ons van God se genadige omgang met Sy mense, al skiet hulle hulself in die voet.

Israel was duidelik op die agtervoet en vrees het hulle beetgepak. In Josua 8:1 bemoedig die Here hulle met die woorde dat hulle nie bang moet wees nie en hulle nie laat afskrik nie. Hy laat hulle nie waar hulle geval het nie, maar tel hulle op. Hierdie keer kon hulle selfs die buit en die vee vir hulself hou. Die Here wys vir hulle hoe om die stad in te neem.

Die gevolg van hierdie nuwe begin is dat die volk hulle ook weer hertoewy aan die Here. Hulle stel hulself weer onder die gesag van God se Woord. Jou situasie mag heelwat anders lyk. Josua 8 bemoedig egter almal wat drooggemaak het en moed wil verloor.

Vertrou die Here vir ‘n nuwe begin. Hy maak alles nuut. Baie gelowiges steek vas by hulle Ai ervaring. Dalk ’n fout, verkeerde keuse, ’n nederlaag. Jesus Christus het gesterf en uit die dood herrys. Vir elkeen wat in Hom glo is daar ’n nuwe begin. Moenie vassteek by jou mislukkings nie. Staan op en herverbind jou aan die Here. Hy is die God van tweede kanse. Vertrou Hom.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button