Onverstaanbares in die lewe van ’n ou man
Waarom val ’n sny gebotterde brood feitlik elke keer met die botterkant op die vloer?
In die soektog na ’n tema vir vandeesweek se rubriek het ek verskeie onderwerpe oorweeg in ’n poging om iets anders as die gewone temas, en het oor twee dae baie hard gedink en bronne geraadpleeg. Totdat my stuk roosterbrood vir die soveelste keer met die botterkant ondertoe op die grond beland het. Dit het my onmiddellik laat dink aan die talle dinge wat ek in my alledaagse lewe nie verstaan nie.
Waarom val ’n sny gebotterde brood feitlik elke keer met die botterkant op die vloer? Ek het die internet geraadpleeg en verskeie bronne het aangedui dit hang van verskeie faktore af, onder meer die hoogte van die brood wanneer dit begin val, die grootte van die sny, in watter posisie dit in jou hand of op die tafel is wanneer dit grond toe gaan, die gewig van die brood, en verskeie ander minder belangrike faktore. Die konsensus is dat die brood hoofsaaklik weens verskeie fisika-beginsels met die botterkant op die vloer sal val, en dat dit gereeld met mense oral oor die wêreld gebeur. ’n Beduidende faktor is glo die gewig van die botter.
Ek het terstond aan ’n ander voorbeeld gedink. Waarom val messe en vurke so maklik van borde af wanneer die borde na die wasbak toe geneem word? Behalwe by die huis, het ek dit gereeld ervaar by ’n kuierplek van O’Hagan’s in Sandton, waar ek amper ’n jaar lank gewerk het, en in ons restaurant in Shelly Beach in die heel vroeë tweeduisends. Ek kon geen verklaring daarvoor op die internet kry nie.
Ek het teen hierdie tyd ook aan ander onverstaanbare ervarings gedink. Iets wat gereeld met my gebeur, is wanneer ek ’n nuwe pakkie pille, en in ons huis is daar nogal ’n wye reeks pille wat weens die gevolge van die ouderdom maandeliks aangeskaf word, is die brosjure in die pakkie se voukant feitlik altyd aan die kant waar ek die pakkie oopmaak, en versper dit die toegang tot die medikasie. Ek het ’n pakkie by geleentheid al goed uitgekyk, en oorweeg watter kant om oop te maak.
Nadat ek besluit het, dink ek by myself, jy gaan my nie weer vang nie, ek is te slim vir jou, en maak die ander kant oop. Raai wat. Weer die voukant van die biljet. En terwyl medikasie ter sprake is, waarom is die inligting op die voubiljette in hierdie dae, 32 jaar na 1994, steeds net in Engels en Afrikaans? Wanneer sinnelose naamsveranderings van dorpe en stede op ons afgedwing word?
Die volgende pynlike ervaring is by talle mense bekend, en soos hulle, probeer ek om dit met goeie waarneming en kom ons noem dit ruimtelike bewustheid te vermy. Ek verwys na kleintoontjies wat gereeld amper uit lit uit geruk word wanneer ’n mens by beddens om ’n draai verbyloop. Veral op vreemde plekke soos hotelkamers. Die verskil hier is ek weet waarom dit gebeur. Maar dit gebeur steeds met my. Selfs in my eie huis. Omdat ek nie onthou nie dat die hoeke van baie soort beddens deur die beddegoed vir die oog verberg word, met pynlike gevolge.
Hierna het ek gesit en dink aan ander dinge wat ek nie verstaan nie of my verstom, omdat ek genoeg materiaal vir die rubriek moes kry. Iets buite die huishoudelike wat my lank reeds laat wonder, is die letterlik honderdduisende, dalk miljoene, tweedehandse motors wat oral in Suid-Afrika wag op nuwe eienaars. Elke keer wanneer ek in my motor ry, is ek verstom oor die rye en rye gebruikte motors om elke hoek en draai wat wag op nuwe eienaars. Onderwyl daar in 2025 sowat 600 000 nuwe motors op ons paaie beland het. Ek wonder hoeveel motors verlaat ons paaie elke jaar?
Ewenwel, wanneer ’n mens ’n onderneming soos We Buy Cars besoek, is dit ’n belewenis om te sien hoeveel motors daar net by een tak staan. Dis verstommend. Dooie kapitaal. Soos bottels in ’n drankwinkel. Wat net iets vir die eienaar beteken totdat dit verkoop is. We Buy Cars koop bv. ’n motor kontant, wat beteken daar is nie motors op hul persele wat hulle namens iemand teen kommissie verkoop nie. Hulle moet oortrokke geriewe ten bedrae van baie miljoene rande by banke hê. Aan die positiewe kant is daar op enige gegewe oomblik talle potensiële eienaars wat tussen We Buy Cars se motors rondloop. Wonder wat gaan met hulle gebeur wanneer daar ‘n groot ekonomiese insinking in die land is. Nietemin, ek verstaan steeds nie hoe almal wat tweedehandse motors verkoop, oorleef nie.
’n Ander saak wat my laat wonder, is of die groot hoeveelhede vars vleis van alle soorte in die yskaste van supermarkte oral alles verkoop word. Myns insiens is daar nie ‘n manier dat die bederffaktor nie ’n groot rol speel, en uiteindelik die pryse van ’n onderneming opjaag nie. In ons Pick n Pay-supermark is daar bv. rye en rye hoendersosaties van elke kleur en geur in groepe in groot bakke. Dit kan mos nie gebeur dat almal van elke geur uitverkoop word voordat bederf intree nie? Wat van die gesnyde tjops en ander vleis? Sal graag die antwoord hierop wil weet.
Daar is beslis antwoorde op al hierdie vrae. Waarvan ek ongelukkig net so hier en daar iets weet.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
