Is jy besig om jouself uit te brand?
Wat is uitbranding? In die sewentigerjare het die sielkundige, Herbert Freudenberger, uitbranding (burnout) beskryf as ’n ernstige en stresvolle toestand wat akute fisiese, geestelike en sielkundige uitputting tot gevolg kan hê en jou en diegene rondom jou se lewens lelik kan ontwrig.
As iemand wat op in verskeie stadiums van my lewe groot stres ervaar het, meesal tydens my paar jaar in die sakewêreld, en in ’n mindere mate, maar steeds kwaai, in my beroep as joernalis, het ’n berig van Afrikaans.com meer as net my normale aandag getrek.
Dis geskryf deur Annelie van Jaarsveldt, en is ’n moet-lees vir almal wat vermoed hulle is besig om deur erge stres ondergekry te word. Ek herhaal dit hier, effens verkort, vir ons lesers wat spanning ervaar, want dit bevat uitstekende, sinvolle wenke om die situasie te hanteer:
“Jy is moeg – tot in jou beendere. Die gedagte om uit die bed uit op te staan en werk toe te gaan, of net aan te trek, lê soos ’n Everest voor jou. Goed ontstel jou meer as gewoonlik. Jy voel sommer net oorweldig. Jy weet ook nie regtig hoekom jy so voel nie, want jy is nie siek nie – nog nie. Die rede dat jy so voel, het waarskynlik iets te make met uitbranding. Daarom moet jy so gou moontlik aandag hieraan gee, want anders stuur jy dalk af op ’n totale ineenstorting. Afrikaans.com gee so ’n paar riglyne, die tekens en oorsake, en hoe jy dit kan bestuur.
Wat is uitbranding? In die sewentigerjare het die sielkundige, Herbert Freudenberger, uitbranding (burnout) beskryf as ’n ernstige en stresvolle toestand wat akute fisiese, geestelike en sielkundige uitputting tot gevolg kan hê en jou en diegene rondom jou se lewens lelik kan ontwrig. Uitbranding is dikwels die gevolg van langtermynstressors wat lei tot die oormatige afskeiding van streshormone, soos kortisol. Dit kan situasies wees soos spitsverkeer, die eise van jou gesin, te min oefening, werksdruk, ’n rekenaar wat probleme gee, en so meer. Klein goedjies wat jou immuunstelsel afbreek en kan lei tot slaaploosheid, humeurigheid, konsentrasieprobleme en vergeetagtigheid. Die betrokkenes raak skielik besluiteloos en is apaties teenoor hulle verantwoordelikhede. Die uiteinde is depressie en selfs selfvernietigende gedagtes.
Tipiese eienskappe van iemand wat aan uitbranding ly.
i) Ongenaakbaar teenoor jouself weens brandende ambisie. Jy druk jouself al hoe harder om sekere doelwitte te bereik. Jy sukkel om balans tussen jou werk en lewe te handhaaf.
ii) Jou werk of studies verveel jou, maar jy weet nie altyd hoe om dit te verander nie.
iii) Jou eie belange word geïgnoreer en jy verwaarloos jouself deur swak eetgewoontes, te min slaap en te min oefening wat jou gesondheid nadelig kan raak.
iv) Gebrek aan ondersteunende verhoudings sodat jy te veel hooi op jou vurk het en oorweldig voel.
v) Jy is blind vir jou eie tekortkominge/foute en ontken dit of blameer ander vir die probleme – juis omdat jy nie besef dat dit jou eie gedrag is wat die druk veroorsaak nie.
vi) Jy voel leeg van binne en soek opwinding elders, soos dobbelary, dwelmmisbruik en so meer.
vii) Jy voel jou lewe het nie meer betekenis nie en jy raak depressief.
Een van die tekens van uitbranding is fisiese en emosionele uitputting: Jy het gereeld hoofpyn of maagpyn, is nie lus vir kos nie en slaap sleg, raak vergeetagtig en sukkel om te konsentreer. Jy verloor ook selfs vir die kleinste dingetjies jou humeur. Jy onttrek jouself sosiaal en ontspan nie genoeg nie. Jou gedrag verander en in plaas daarvan om kalm te bly, raak jy selfs met tye aggressief. Jy is gedurig siek. Jou immuniteitstelsel verswak wat jou vatbaar maak vir siektes. Stres veroorsaak angs, depressie en baie meer.
In ons gejaagde lewe is dit feitlik onmoontlik om weg te kom van stresvolle toestande, maar ’n mens kan wel iets doen om dit beter te maak of om dit beter te bestuur. Die belangrikste is om eerlik met jouself te wees en te erken hoekom jy voel soos jy voel en optree soos wat jy optree. Let op die reaksie van jou kollegas, gesin en familie. Vra jouself af hoekom hulle op bepaalde maniere teenoor jou reageer.
Doen die volgende:
i) Eet gebalanseerd en sorg dat jy genoeg van die regte soort vitamiene en minerale inneem.
ii) Oefen gereeld.
iii) Slaap genoeg en sorg dat jy gehalteslaap kry.
iv) Moenie jou familie en vriende afskeep of jouself onttrek nie. Hulle kan jou help wanneer nodig.
v) Probeer om nie negatief te wees nie en die positiewe in die lewe raak te sien.
vi) Doen asemhalingsoefeninge en mediteer gereeld.
vii) Sluit aan by groepe waar jy met mense kontak het wat dieselfde belangstellings as jy het.
viii) Kry balans tussen werk en jou persoonlike lewe.
xi) Moenie die waarskuwingstekens ignoreer nie en kry professionele hulp. Daardie maag-, bors- en hoofpyne is nie normaal nie. Paniek-aanvalle (wat dikwels soos ’n hartaanval kan voel) is nie normaal nie. Dis ook nie ’n skande om te erken dat jy hulp nodig het nie.
Daar is niks belangriker as selfsorg nie. As jy uitbranding miskyk, kan dit sy tol eis op jou gesondheid en kan dit selfs lei tot hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siektes en Tipe 2-diabetes.
Probeer asemhalingstegnieke om jou stres te beheer, soos die 4-7-8-metode:
i) Asem vier sekondes lank deur jou neus in.
ii) Hou jou asem dan vir sewe sekondes op.
iii) Blaas nou jou asem vir agt sekondes lank deur jou mond uit.
iv) Herhaal dit vier keer.
Gaan gerus na Afrikaans.com vir ander interessante artikels. Lekker leesstof.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
