Wen KZN die stryd teen renosterstropers?
Tony Carnie van die Daily Maverick berig die aanslag van stropers in KZN se bekende renoster-wildtuin is nog lank nie verby nie.
Dit lyk asof die stryd teen renosterstropery in KZN-Natal gewen kan word. Nie ’n enkele renoster is in Januarie in die Hluhluwe-iMfolozi-wildtuin gestroop nie, vergeleke by sowat 30 per maand slegs drie jaar gelede. Tony Carnie van die Daily Maverick berig die aanslag van stropers in KZN se bekende renoster-wildtuin is nog lank nie verby nie. Carnie het die wildtuin onlangs besoek, en berig die kopbene van honderde renosters wat stadig maar seker in ’n ‘begraafplaas’ in die Nqumeni-gebied van die Wildtuin opgehoop het, is stille getuienis van die slagting die afgelope jare. Hy het die kopbene laas in 2018 gefotografeer, toe daar sowat 40 was. Nou is daar meer as 150, net op een plek.
Daar is verskeie soortgelyke begraafplase in die hierdie en ander wildtuine van Suid-Afrika, wat herinner aan die stroping van amper 11 100 renosters sedert die slagting sowat 18 jaar gelede begin het. Toe die stropery op sy ergste was, is meer as duisend renosters jaarliks tussen 2013 en 2017 in Suid-Afrika doodgemaak, hoofsaaklik in die Nasionale Krugerwildtuin en Hluhluwe-iMfolozi. In een stadium, het die stropers drie renosters elke dag afgemaai. Carnie berig die dodetal het sedertdien stadig maar seker afgeneem, deels te danke aan intensiewer veilgheidsmaatreëls en anti-stroper-strategiëe, maar ook omdat daar minder renosters oor is om te stroop.
Om die stropery te beveg, het private renostereienaars stadig maar seker begin om hul diere te onthoring. Dit was ’n desperate stap wat so geslaagd was dat die bewaringsagentskappe dieselfde begin doen het. Ezemvelo KZN Wildlife, verantwoordelik vir een van die grootste oorblywende renosterbevolkings ter wêreld, was aanvanklik teësinnig om die ikoniese horings (die diere se primêre verdedigingsmeganisme), te verwyder. Dit het egter teen die middel van 2024 verander toe ’n uitgebreide onthoringsprogram met die geldelike ondersteuning van buitelandse en plaaslike bewaringsgroepe begin is.
Die gevolge was feitlik onmiddellik. In 2023 is 325 renosters in KZN afgemaai, in 2024 232, en verlede jaar het dit verminder tot 97. In Januarie vanjaar, soos reeds genoem, nie een nie, maar Carnie wys daarop dit kan enige tyd verander. Die uitvoerende hoof van Ezemvelo, Sihle Mkhize, sê die onthoring-veldtog was ’n belangrike vroeë afskrikmiddel, maar die onlangse welslae is ook te danke aan ’n geïntegreerde en breë veiligheidsprogram. Dit sluit in samewerking met ander renostereienaars en die deel van intelligensie, nuwe kamera-toerusting, sensor-netwerke, hommeltuie en lugsteun vir snel opsporing en reaksie. ’n Nuwe integriteit-bestuursprogram wat leuenverklikkertoetse op Ezemvelo-personeel, en tegniese en geldelike steun van plaaslike en buitelandse nie-regeringsporganisasies insluit, is van stapel laat loop.
Die leuenverklikkertoetse, wat eers teen die middel van 2024 begin is, is aanvanklik deur personeellede teengestaan, maar word nog steeds gedoen. Die toets-uitslae is nie in ’n hof toelaatbaar nie, maar dit het gehelp om meer gedetailleerde inligting te bekom en voorkomende personeeloorplasings weg van kritieke gebiede te doen. Daar is ook beslag gelê op die selfone van sekere personneellede vir ontledings van oproepe wat gemaak of ontvang is. Ezemvelo se senior raadgewer ivm. renosterbeskerming, Cedric Coetzee, wys daarop die meeste stropers kom die wildtuin snags binne, wat dit noodsaaklik maak dat hulle in die donker opgespoor en aangekeer moet word.
Die eerste verdedigingslinie is die ‘slim heining’-waarskuwingstelsel wat by die kwesbaarste grenslyne aangebring is, aangevul deur die meer as 200 kameras oral in die wildtuin, wat deur beweging geaktiveer word. Wanneer kamerabeelde van suspisieuse bedrywighede ontvang word, word hommeltuie uitgestuur om bykomende inligting te versamel. Indien die tuie bevestig daar is ‘n stroping op hande, word gewapende anti-stroperpersonneellede te voet, of met helikopters ontplooi. Dit sluit in spesiaal-opgeleide honde-eenhede. Die helikopter-vlieëniers het nagvisietoerusting, en vlieg sonder enige lig buite die tuie. Om te verseker wildtuinpersoneel word nie deur hul kollegas per abuis leed aangedoen nie, is spesiale monitoraksies ingestel wat hul veiligheid verseker.
Mkhize het aan Carnie gesê die feit dat daar in Januarie geen stroping was nie, toon wat bereik kan word indien al die betrokkenes saamstaan. “Ons is baie bemoedig deur die vooruitgang, maar die geveg is nog lank nie verby nie. Hierdie suksesse bly afhanklik van finansiële, politieke en gemeenskapsondersteuning”. ’n Senior oud-bestuurslid van die Wildtuin, wat nie sy naam genoem wou hê nie, waarsku die wildtuinbestuur dat die renosters gereeld onthoring moet word om te verhoed dat die stompies weer groei. “Hierdie stryd gaan nie sommer verdwyn nie. Ons moet konstant gereed wees vir die volgende golf. En hoop die finansiering droog nie op nie”.
Die bestuurshoof het ook aan Carnie gesê daar is dalk ’n werkbare, hoewel kontroversiële alternatief oor: Die herinstelling van die internasionale handel in renosterhoring. Dit is reeds vyf dekades taboe, sonder dat die stropersindikate hoegenaamd geaffekteer is. “Ons glo ‘n wettige, behoorlik gekontroleerde handelstelsel sal help om die mark meer as te versadig, en die vlakke van stroping dramaties te laat afneem, omdat dit die prys van renosterhoring drasties sal laat daal. Ons het voorrade renosterhoring wat biljoene rand werd is en gebruik kan word hierdie krisis te help oplos. Ons hoop om daardie stadium uiteindelik te bereik, maar volg egter ‘n versigtige benadering en moet binne die raamwerk van die wet bly”.
Inderdaad bemoedigende nuus deur die Daily Maverick, en ons kan net hoop dat die geldelike ondersteuning van die anti-stropingsmetodes nie opdroog nie. En dat die stropers steeds meedoënloos vervolg sal word.
