South Coast Fever

Wouter se Watergat: Baie Sharks-Springbokke inderdaad ‘n las

Die rugby was nietemin ’n teenvoeter vir die swartgalligheid met die goeie oorwinnings van die Sharks, die Lions en die Bulle in die VRK.

Die groot besprekingspunt die afgelope week was die Israelse en Amerikaanse oorlog teen Iran. Weens die aard van hierdie rubriek is dit nie moontlik om al die agumente en teen-redenasies weer te gee nie, maar opsommend kan ek verklaar die pro- en anti-Trumpmense se harte bly verhard en daar is geen teken dat die betrokke besoekers aan die Watergat hul onderskeie standpunte versag het nie. Inteendeel. Die MAGA-gesindes se verdediging van Trump is sterker as ooit tevore, en die anti-Trumpers se kritiek is intenser. Ons kom agter dieselfde tendens is te siene op die verskillende sosiale media-platforms. Nêrens is daar iemand wat verklaar hy was verkeerd en gaan van standpunt verander nie.

Intussen gaan die oorlog voort, met al die moontlike ernstige gevolge vir die hele wêreld, insluitend Suid-Afrika, en bewys die huidige Amerikaanse regering, of hy nou reg of verkeerd is, hom as moontlik die grootste verdelende faktor in die geskiedenis van VSA self en die wêreld. Geen grys gebiede nie. Onverbiddellik net swart of wit. Gasvryheid-ondernemings soos ons, oral in die land, sit met ingehoue asems en wag vir die uiteindelike gevolge op die prys van brandstof, want dit gaan ‘n beslissende rol speel of ons Paasnaweek, maar veral die middel-jaarse skoolvakansies, winsgewend gaan wees of nie. Wie gaan hierheen kom wanneer die reiskoste baie na aan die verblyfrekening is of dit oortref?

Die rugby was nietemin ’n teenvoeter vir die swartgalligheid met die goeie oorwinnings van die Sharks, die Lions en die Bulle in die VRK. Veral natuurlik die Sharks om logiese redes. Die wedstryde was lekker om na te kyk, gehalte rugby, veral deur die Lions. Werklik indrukwekkend. Oom Pottie kon nie uitgepraat raak oor sy ‘Lieflike Leeus’ nie. Dalk, dalk net, minstens drie SA-spanne in die top agt van die kompetisie vir die uitspeelrondes.
Kan nie sien hoe die Sharks dit gaan maak nie. Punteverskil net te groot. Jammer om te hoor daar is nie meer plek vir John Plumtree nie, maar bly dat die Sharks-bestuur erken het die talle gekontrakteerde Springbokke wat so min speelkans kry weens nasionale en ander verpligtinge, is inderwaarheid ’n las.

Daar was heelwat spelers wat oor die naweek die oog gevang het, maar drie wat melding verdien is myns insiens Deon Fourie van die Stormers, Luan Gilliomee van die Sharks, en Embrose Papier van die Bulls. Die 39-jarige Fourie, na onlangse beserings, speel van die beste rugby van sy loopbaan op sy ‘gevorderde’ ouderdom. Verstommend. Die 19-jarige Gilliomee het Saterdag soos ’n ervare speler skitterspel gelewer, ’n ware rugby-diamant. Papier is een van die beste skrumskakels in die land. Ongelukkig vir hom, is daar deesdae so baie van hulle.

Ons het ook lekker gekyk na side Varsitybeker-wedstryde, en was weereens verbaas oor die gehalte van die rugby en individuele spelers. Rassie Erasmus en die bespieders van die provinsiale franchises moes heelwat spelers gesien het om te nader vir kontrakte.

Nog ’n Kaapse loopstorie: Gatiep en Meraai kom af op ’n tas waarin daar R1 000 is. Gatiep vra: ‘Wat gaan ons met die geld maak?’ ‘Nei, ons deel dit fifty-fifty’. Gatiep frons: ‘En wat maak ons dan met die anner R900?’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button