Johan Pretorius: Die lief en leed van ’n lewe met honde
Ek onthou ons blydskap wanneer ons verneem het honde met wie ons in vorige weke gesels het, het nuwe eienaars gekry.
Die besluit om oor vandeesweek se onderwerp te skryf is nie maklik geneem nie. Juis omdat daar ’n hartseer-hoofstuk is wat wag om afgesluit te word. Ek het in ’n rubriek in die verlede genoem dat my suster en ek van baie kleins af met honde (en katte) te doen gekry het weens ons ouers se betrokkenheid by die destydse Vereniging ter Voorkoming van die Mishandeling van Diere (soos die SPCA destyds in Afrikaans bekend was) in Roodepoort, meer spesifiek, langs ’n ou mynhoop aan die buitewyke van Maraisburg.
Ons het gereeld Saterdae soontoe gegaan omdat ons ouers bevriend was met ’n welgestelde egpaar wat ’n destyds moderne kompleks vir die SPCA laat bou het, en self op die perseel gewoon het. Ons het soms van hok tot hok gegaan en met die honde wat gewag het op aanneming, interaksie gehad. Ek onthou ons blydskap wanneer ons verneem het honde met wie ons in vorige weke gesels het, het nuwe eienaars gekry. Maar ook die hartseer wanneer ons ingelig is die hond of honde wat die vorige naweek so desperaat was vir menslike kontak, is ‘uitgesit’ omdat hul wagtydperk van ses weke verby was, en hulle moes plek maak vir nuwe aankomelinge. Daardie gevoel sal ek nie vergeet nie. My gewaarwording oor die jare daarna was dat ek ’n verslaafde hondemens is. Hou van katte, maar myns insiens is die verskil tussen hulle hemelsbreed.
Sedert my kinderjare was daar talle honde in my en my familielede se lewens. Die meerderheid van hulle moes die genadedood toegedien word weens siektes of ouderdomskwale. Elke keer traumaties, met die uwe wat die meeste van hulle vee-arts toe moes neem vir die inspuiting. Elke keer het dit my verstom hoe vinnig onmiddellik na die inspuiting, die hart stop. Die oë bly oop, maar sien skielik niks. Die ewige slaap. Elke keer was die alleenrit huis toe met ’n groot gevoel van verlies. Met een van ons Duitse Herdershonde, waarvoor my vrou Rina ontsettend lief was, was dit egter anders. Toe Igor se hart gaan staan, het die hartseer haar so oorval dat ons sowat 45 minute lank in ‘n agterkamer van die veearts se sentrum op die Suidkus moes vertoef voordat haar snikke bedaar het.
Ons het meer as ses jaar gelede weens vroulief se gesondheidsprobleme by ons jongste seun en sy gesin gaan woon. Saam met ons laaste Duitse Herdershond, Gunther. Lieflike dier, maar toe reeds amper 12 jaar oud. Skaars 18 maande later, op ’n Sondagaand, kon ek sien iets is drasties verkeerd. Hy het gebraak, en het groot pyn verduur. Hom vinnig in die motor gelaai, en saam met my seun na ‘n vee-artsenykundige-nooddienssentrum geneem. Gunther se maag het, soos met baie ander, veral ouer, honde gebeur, ‘geflip’, oftewel heeltemal omgedraai. Die genadenaald was die enigste opsie. Dit was die enigste keer dat ek ’n hond gegroet het voor die genadedood, want ek was ontsettend lief vir Gunther, en hy vir my. Ek was later bitter spyt daaroor, maar ek wou nie die risiko loop dat dieselfde met my gebeur as destyds met vroulief nie.
Na hierdie ervaring het twee ander hondjies in ons lewens gekom. My seun en sy gesin, waar ons toe nog gebly het, het reeds ’n Yorkie gehad toe ons daar aangekom het, en met Gunther, wat nie van ander honde gehou het nie, was dit moeilik om die vrede te bewaar. Iemand het my skoondogter intussen genader en gevra of hulle belangstel in twee Maltesers, albei toe sewe jaar oud. Van hul vriende was aanvanklik die eienaars, maar weens ‘n gesinstragedie het die hondjies na een van die oupas en oumas van die gesin toe gegaan. Toe die ou mense egter na ’n ouetehuis moes trek, kon die hondjies nie saamgaan nie. Na ‘n gewik en geweeg, het met my skoondogter tog besluit om die twee, Fluffy en Liefie, te neem.
Liefie is presies wat haar naam beteken, ’n regte ‘borrelkoppie’ weens ’n virussiekte wat amper haar lewe gekos het. Fluffy ’n ‘denker’, baie geheg aan mense,, en soos sy maatjie, dalk sussie, lief vir blaf. Met Gunther se oorlye, het die twee agv. omstandighede alhoemeer ons hondekleinkinders geword, en met ons intrek in ‘n aftee-oord amper twee jaar gelede, saamgekom. Sedertdien was hulle, nou 13 jaar oud, ‘n groot plesier en die ene liefde in twee ou mense se lewens. Gesond. Vol lewe. Tot sowat ses weke gelede. Fluffy het gedisoriënteerd begin raak. Weet nie mooi waar hy is nie. Staar voor hom uit. Volg my net waar ek gaan. Het ’n soort obsessie met my. Ek neem hom veearts toe. Die diagnose? Demensie. Geen genesing nie, gaan net erger word. Algemeen onder Maltesers. Ons sal moet besluit wanneer dit tyd is om hom daarvan te verlos. Wanneer die kalmeerpille nie meer ‘n uitwerking het nie. Wat toe gisteraand gebeur het. Omtrent nie geslaap nie want Fluffy kon nie tot ruste kom nie, ten spyte van talle pille.
Onderwyl ek sit en tik, lê Fluffy op die bank langs my, styf teen my. Hy hou my stip dop. Vol pille. En ek besef hy en ek het een van daardie onvermydelike afsprake by ’n vee-arts. Waarskynlik nog voor hierdie rubriek later vandeesweek gepubliseer is. Ek huil weer in my hart. Vir die soveelste keer oor ’n hond. Ai tog.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
