God skep onheil tot heil
In Josua 10 lees ons hoedat een van Israel se bondgenote, die Gibeoniete, bedreig word deur ’n sameswering en alliansie van vyandige konings.
Soms kom ’n mens voor skynbaar onoorkomelike struikelblokke in die lewe te staan. Jy het dit seker al beleef dat jy ’n bepaalde bedreiging of uitdaging moet hanteer. Daar word dalk op jou nommer gedruk en jy moet intree vir ander. Hoe gemaak as die bedreiging of uitdaging bo jou vuurmaakplek is? In Josua 10 lees ons hoedat een van Israel se bondgenote, die Gibeoniete, bedreig word deur ’n sameswering en alliansie van vyandige konings. Mens dink onwillekeurig aan die huidige konflik in die Midde-Ooste en omliggende gebiede.
Die konteks destyds en vandag verskil egter hemelsbreed. Josua 10 vertel van hoe God die land wat aan Isarel beloof is, aan hulle gee om te verower. Ons kan talle vra or hierdie teks. Dit speel egter teen ’n unieke kulturele en sosiale konteks af.
Die belangrike les van Josua 10 is egter dat God ons verleenthede in geleenthede omskep en dat Hy meer kan doen as wat ons dink of vra. Hy span selfs die natuur in om seën oor Sy mense te gebied. Die opdrag aan Josua hulle was om die land te verower en die moreel verworde nasies te verower. Hier benut Hy selfs Israel se verleentheid om nie die Gibeoniete se misleiding raak te sien nie.
Hulle het, as mense wat eintlik vernietig moet word, mos Israel se vennote geword deur misleiding. Nou word hulle deur die ander volke aangeval en vra Israel se hulp. God neem Israel se gebrek aan oordeel in diens en bereik Sy doel. Moet nie moed opgee as jy dalk gefouteer het of swak oordeel aan die dag gelê het nie. God omskep onheil tot heil.
Hoe omskep Hy onheil tot heil? Hy verwar Israel se vyande, Hy span die natuur in deur haelstene op die vyand te laat val en op Josua se versoek gaan staan die son en die maan ook stil sodat die finale nekslag toegedien kan word. Oor hoe hierdie gebeure in die gang van seisoene en aardomwentelings inpas, hoef ons nie ons ons koppe te breek nie. Die belangrike is dat God meer kan doen as wat ons dink of vra. Ons moet net leer om te bid en Hom te vertrou.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
