Johan Pretorius: Die betekenis van die leë Paaseier
Die Paasnaweek word nie daar amptelik gevier nie, daar is geen vakansiedae nie, maar hulle is bewus van sekere gebruike, soos bv. paaseiers wat weggesteek word sodat kinders daarna kan soek.
Dis weer Paastyd, en die winkels is vol Paaseiers, ‘Hot Cross Buns’, en verskillende ‘Paasaanbiedinge’ van allerhande produkte met spesiale pryse ‘to celebrate the season’. Nêrens, maar nêrens sal bv. ’n Marsmannetjie wat hier land en by ’n winkel instap, hoegenaamd ’n idee kry van wat die ware betekenis van die Vrydag tot Maandag is nie. My seun wat reeds 11 jaar in China bly, vertel my die skool waarby hy betrokke is, en vorige skole waar hy was, het ’n spesiale geleentheid vir die jonger kinders gereël. Die Paasnaweek word nie daar amptelik gevier nie, daar is geen vakansiedae nie, maar hulle is bewus van sekere gebruike, soos bv. paaseiers wat weggesteek word sodat kinders daarna kan soek. Soos elders in die wêreld. Die kinders wat daarna soek, het egter geen idee van die betekenis van die naweek nie. Soos ook in baie gevalle hier by ons.
Dit het my laat dink aan ‘n ware verhaal wat ek jare gelede gelees, en op die internet opgespoor het. ’n Ware verhaal. In Amerika geskryf deur Ida Mae Campbell, en in 1988 gepubliseer. Dit handel oor ’n 12-jarige kind, Jeremy, wat gebore is met ernstige verstandelike en liggaamlike gebreke. Hy was steeds in slegs die tweede graad op skool, en het gesukkel om te leer. Sy onderwyseres, Doris Miller, het moedeloos geraak want Jeremy kon nie lank stilsit nie, en het soms steungeluide gemaak. Hy het skielik normaal kon praat en kommunikeer, asof ’n helder lig in sy brein aangeskakel het, maar dan geledelik uitdoof. Tot sy onderwyseres se irritasie. Sy het op ’n dag besluit om met sy ouers te gesels, en hulle gevra om skool toe te kom. ‘Jeremy hoort in ’n spesiale skool’, het sy hulle meegedeel. ‘Dis nie regverdig teenoor hom en sy klasmaats dat hy saam met kinders is wat geen leerprobleme het nie. Die ander kinders is vyf jaar jonger as hy’.
Jeremy se ma het saggies gesit en huil. ‘Mev. Miller’, het sy verklaar, ‘daar is geen spesiale skool hier naby nie. Dit sal ’n groot skok vir Jeremy wees indien ons hom hier moet wegneem. Hy hou werklik van hierdie skool’. Nadat die ouers weg is, het die onderwyseres lank sit en staar na die sneeu buitekant. Dit het gevoel of die koue in haar siel ingekruip het. Sy wou met die Forresters simpatiseer. Hul kind het inderwaarheid ’n terminale siekte. Maar dit was nie regverdig teenoor die ander 18 leerlinge om hom in haar klas te hou nie. Hy sou in elk geval nooit leer lees en skryf nie. Sy het egter skielik baie skuldig begin voel. ‘Hier sit ek en kla, dit terwyl my probleme nie vergelykbaar is met dié van daardie arme gesin nie’, het sy gedink. ‘Here, help my asseblief om meer geduldig met Jeremy te wees.’ Van daardie dag af, het sy hard probeer om dit te doen. Om sy leë gesigsuitdrukkings en steungeluide te ignoreer.
Op ’n dag het Jeremy homself uit sy bank gekry, en, en na Doris se lessenaar geskuifel, met sy een been wat hy op ’n manier voortgesleep het. ‘Ek is baie lief vir jou, juffrou Miller’, het hy hardop gesê sodat die hele klas hom kon hoor. Die ander kinders het gegiggel, Doris het gebloos. ‘Dit was baie mooi Jeremy, dankie, maar jy moet nou na jou sitplek toe teruggaan.’ Die tyd het verbygegaan, en die Paasnaweek was op hande. Doris het die kinders die storie van Jesus vertel, en om die beginsel van nuwe lewe wat ontstaan te beklemtoon, het sy elkeen ’n plastiek-eier wat kon oopmaak, gegee. ‘Bring die eiers môre terug met iets in wat nuwe lewe simboliseer. Verstaan julle?’ ‘Ja, juffrou,’ het hulle geantwoord. Almal behalwe Jeffrey. Hy het aandagtig na haar geluister. Na haar gesig gekyk. Sy het gewonder of hy die Paasfees-boodskap behoorlik verstaan het. Weet hy wat hy moet doen? Moet sy nie dalk sy ouers kontak en die projek aan hulle verduidelik nie?
Weens dinge wat haar by die huis besig gehou het, het sy vergeet om Jeremy se ouers te kontak. Die volgende oggend het die tyd aangebreek om die Paaseiers oop te maak. In die eerste een was daar ’n blommetjie. . In die tweede een ’n plastiek-skoenlapper. Die volgende een het ’n klip met mos daarop bevat. Doris was baie tevrede met die simbole van nuwe lewe. Die vierde eier was leeg. Niks binne-in nie. Jeremy s’n. Sy wou hom nie in ’n verleentheid stel nie, en skuif die eier eenkant toe. ‘Gaan juffrou nie oor my eier praat nie?’ vra Jeremy. ‘Maar jou eier is leeg, Jeremy’. ‘Ja juffrou, maar Jesus se graf was ook leeg’. Die tyd het vir Doris gaan stilstaan. ‘Weet jy waarom, Jeremy?’ ‘Ja juffrou. Jesus is doodgemaak en daarin geplaas. Sy Vader het hom egter laat opstaan. Laat herlewe.’ Tydens die res van die verrigtinge, het Doris in haar binneste ’n warm, hartseer gevoel gehad.
Drie maande later is Jeremy oorlede. Tydens sy begrafnis was die roubeklaers verbaas oor die 18 Paaseiers op sy kis. Almal leeg.
