South Coast Fever

Stiltetyd: Soek betekenis op die regte plek

Sommige probeer naam vir hulself maak soos antieke en selfs hedendaagse heersers.

Wat gee sin en betekenis aan mense se lewens? Dit is die vraag wat die mensdom eeue lank besig hou en wat mense op verskillende maniere probeer beantwoord. Sommige probeer naam vir hulself maak soos antieke en selfs hedendaagse heersers. Later grawe mens net die verbrokkelde standbeeld van een of ander roemryke figuur op. Die persoon is lankal van die toneel af en die lewe gaan aan. Mense soek betekenis in ydele eer, die erkenning deur andere, materiële gewin. Die najaag van menslike erkenning en applous sien jy wanneer die moderne keisers hulself aanbeveel en vereer. Mense soek betekenis in die applous van mense en die wanpersepsie dat status is wat jou as mens definieer.

Die Prediker in Prediker 2:1-11 vertel vir ons van sy soeke na betekenis in die lewe. Hy het gesoek na dinge om die innerlike vakuum in sy lewe mee te vul. Eers het hy gedink dat as hy hom oorgee aan genot dit betekenis aan sy lewe sou gee. “Ek het by myself gedink: laat ek my oorgee aan plesier, laat ek die lewe geniet!” Sy gevolgtrekking is dat dit nie bevredig nie. “Maar ook dit het niks opgelewer nie.” Volgens Prediker 1:3 en 4 het hy drank probeer, die bymekaarmaak van meer en meer eiendomme, mag oor mense. (vers 7, 8) Hy het hom alles wat hy kon begeer veroorloof. (vers 10). Dit beteken nie dat sakevernuf verkeerd is nie. Die Prediker het egter toegelaat dat genot, plesier en geluk die hoogste doel en primêre waarde in sy lewe word.

Alles het om homself gedraai, tot hy ontdek het dat sy manier van ontvlugting maar ’n eensame pad is. In vers 11 verwoord hy sy ontnugtering so: “Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ‘n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.” Inderdaad. Hierdie is kritiek op die ideologie van sukses. Selfs die toppunt van menslike prestasie gee nie betekenis aan die lewe nie. Wie nie alles tot verheerliking van God doen nie, kom bedroë daarvan af.” Soli Deo Gloria.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button