South Coast Fever

’n Indiese krieket-wonderkind

Nandré Burger het juis reeds ’n skittervertoning gelewer.

Met die Paasnaweek op hande berei ons ons voor vir ’n besige tyd, ten spyte daarvan dat die naweek bederf kan word deur baie minder besoekers weens die vrees vir ’n reuse brandstofprysverhoging. Indien dit so hoog is as wat voorspel word, gaan ’n rit uit bv. Johannesburg hierheen baie geld kos. Veral as die kwaai tolgeld ook in ag geneem word. Ons hou duime vas.

Soos verlede week, was die gesprekke vol verwysings na die oorlog teen Iran, met ’n verskeidenheid menings, die meeste waarvan ek nie hier sal herhaal nie. ’n Beduidende groep van ons besoekers meen president Trump het geen ander opsie as om die oorlog te beeïndig nie. Die groot vraag is bloot watter rede hy gaan aanvoer. Oom Pottie het op die groot ironie gewys dat Trump die naweek verklaar het die oorlog duur voort sodat die Golf van Hormuz weer oopgestel en ru-olie vryelik vervoer kan word. ‘Maak nie sin nie, Woutie. Die seeweg was dan oop voordat die oorlog begin het’. Nogal waar, ja.

Van ons ‘locals’ het weer verwys na chroniese wateronderbrekings op plekke, en die frustrasie van verkeers-opeenhopings by die Umzimkhulu-rivier-brug in Port Shepstone. Die sarkastiese opmerkings oor die meriete-toekennings vir uitnemende diens wat die Ugu-munisipaliteit ontvang het, is aanvaarbaar in geslote gesprekke maar nie in ’n rubriek in ’n gesinskoerant soos hierdie nie. Dit is nietemin ’n goeie aanduiding van wat in die binneste van baie Suidkusmense aan die gang is. ’n Soort magtelose frustrasie en woede. Die plaaslike verkiesings kan nie gou genoeg plaasvind nie. Net jammer ons in KZN sit met die spook van die Zuma-bende wat oor ons hang.

Aan die sportfront het die Indiese Professionele Krieketliga weer begin, en ons sien uit daarna om elke dag vir die volgende amper twee maande van die top spelers, ook heelwat Suid-Afrikaners, in aksie te sien. Nandré Burger het juis reeds ’n skittervertoning gelewer. Die indrukwekkendste speler tot dusver was egter die 15-jarige Indiese sensasie, Vaibhav Sooryavanshi. Hy is ongelooflik. Verlede jaar het hy op 14-jarige leeftyd in sy eerste wedstryd in die liga ’n blitsvinnige honderdtal aangeteken, en vandeesweek het hy sy eerste 50 lopies van net 15 balle af geslaan. Indien hy goed bestuur word, gaan hy een van die grootste krieketspelers van alle tye word. Hy moet net wys wat hy in die vyfdaagse toetswedstryde kan doen. Wat steeds die siel van die spel is.

Ons het weer lekker rugby gekyk. Weer beïndruk met die Lions, Embrose Papier van die Bulls, en hoop die Sharks kan die top agt van die VRK haal. Die Stormers sukkel om hul dominansie van vroeër in die seisoen te handhaaf, maar is nog op die wenpad na ‘n insinking. Ons gesels aanstaande week in meer besonderhede.

Ons loopstorie: Die onderwyseres vra die leerders moet vorendag kom met raaisels. Gatiepie: ‘Wat het oë maar kan nie sien nie, het vier pote en kan nie loop nie, maar kan so hoog spring soos Tafelberg?’ Die klas dink, maar daar is geen antwoord nie. Juffrou: ‘Wat is dit Gatiepie?’ ‘Dis ’n houtperdjie juffrou’. ‘Maar Gatiepie’, antwoord die juffrou, ‘’n houtperd kan mos nie spring nie?’ Gatiepie: ‘Tafelberg ook nie!’

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button