South Coast Fever

Stiltyd: Wil jy onthou word?

Ons het almal die behoefte om onthou te word.

Die mens wou nog altyd vir hom of haarself naam maak. Deur al die eeue was dit so en vandag is dit nie anders nie. Ons het almal die behoefte om onthou te word. Dalk in die name wat ons ons kinders of kleinkinders gee, sodat Hendrik die derde of Susan die vierde darem nie vergeet word nie. Nog beter as ’n gebou of straat na ons vernoem word. So sal die nageslag darem ons stryd onthou. Monumente word opgerig om geskiedkundige gebeure te onthou. In Genesis 6:1-8, aan die begin van die skeppingsverhaal, lees ons van ’n moeilike gedeelte wat verskillend geïnterpreteer word.

Dit gaan ook oor mense van naam en faam, beroemde manne. Die teks praat van hemel wesens wat mense vir hulle as vrouens geneem het en nie sommer enige vrou nie, Dit was mooi vrouens. Daardie kinders, sê die teks, was helde uit die ou tyd, die beroemde manne. Hulle was reuse-, waarskynlik in fisiese voorkoms maar ook in statuur. Uit menslike oogpunt sou mens voorwaar kon sing: Hier kom die manne, hier kom die vroue, en die trompoppies skree hoera! Opvallend dat net daarna geskrywe staan dat God jammer was dat Hy die mens op aarde gemaak het. So spyt is Hy dat Hy alle lewe van die aardbodem af wou uitvee. Tog het Noag guns gevind in die oë van die Here.

Hierdie hemel wesens, oftewel seuns van God, soos hulle ook genoem word, word soms gesien as gevalle engele of buiteruimtelike wesens. Spekulasie help ons nie. In elke geval hou die siening nie water met die res van die Bybel se boodskap nie. Die behoudende verklaring is egter dat dit dui op die godvresende lyn van Set en die goddelose lyn van Kain. Dan gaan hier om verbondsvermenging. Gelowiges trou met ongelowiges. Dit gaan om geestelike verval wat ons ook in ons dag van bewus is. Ook godsdienstige en geestelike verval en uiteindelike totale korrupsie. Let ook op dat hierdie sogenaamde hemel wesens, vir hulle vroue neem soos hulle ook al verkies het. Nee, “naam” word nie gemaak deur mense nie. Niemand weet wie daardie “beroemde” manne na wie die teks verwys nie. Begenadigde mense, God se mense dra egter Sy naam tot in ewigheid.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button