Wouter se Watergat: Trump se demensie skok die Watergat
Die brandstofprys en tolgeld maak die reiskoste vir 'n gemiddelde gesin met 'n redelike groot voertuig onbetaalbaar.
Dit was maar ‘n stillerige Paasnaweek hier by ons. Heelwat binnelandse besoekers, meesal Gautengers wat elke jaar hierheen kom, maar dit was duidelik die hoër brandstofprys en die algemene onsekerheid oor die internasionale gebeure het beslis ‘n invloed gehad op mense se vakansiebewegings. Van die binnelandse besoekers het ons vertel van vriende van hulle wat elke Paasnaweek hierheen kom, maar hierdie keer besluit het om tuis te bly. Die brandstofprys en tolgeld maak die reiskoste vir ‘n gemiddelde gesin met ‘n redelike groot voertuig onbetaalbaar.
‘n Uitsending wat hier ‘n groot debat veroorsaak het, was op Paas-Maandag toe president Donald Trump eers ‘n toespraak tydens ‘n Paasbyeenkoms vir kinders by die Withuis toegespreek het, en daarna ‘n nuuskonferensie binne die Withuis gehou het. Ons het verstom na albei hierdie geleenthede gekyk. Hier is nie ruimte om op besonderhede in te gaan nie, die doodse stilte by drie plaaslike Trump-bewonderaars, het die reaksie opgesom. Ons het nie uitgevra nie, maar kon sien hulle was netso geskok soos ons. Donald Trump ly aan demensie. By my geen twyfel nie.
Oom Pottie het die naweek al so gesê toe Trump sy f-woord-tirade teen Iran met ‘n godslaterlike implikasie gepubliseer het. Sy drie bewonderaars het Maandag nog probeer redeneer dit was nie sy eie boodskap nie, toe erken hy in die toespraak dit was hy. Hul gesigte het boekdele gespreek. Teen die tyd dat hierdie rubriek gepubliseer is, is daar vir seker nuwe verwikkelinge. Intussen is ons bekommerd, Uiters bekommerd. Derde Wêreldoorlog. Met ‘n onkapabele ‘Commander-in-Chief’?
Trump se manewales het vandeesweek tyd gesteel wat normaalweg aan rugby, gewy word, maar ons kan darem, weereens, ons tellerstelling uitspreek met die Sharks se spel. Hulle is deur Connacht uit die Europese Uitdaagbeker geboender, en weereens bewys hulle sukkel om in die buiteland te wen. In die eerste helfte was hulle nog in die wedloop met goeie spel, maar daarna uit die bus geval. Wil bnie bespiegel oor die redes nie, maar ek wil nie in JP Pietersen se skoene wees nie. Iewers is iets verkeerd. Nie nuus nie. Maar steeds geldig.
Die kwaai brandstofprys roep hierdie loopstorie in herinnering. Boer Hannes wil geld spaar en laat sy werkers ‘n klomp diep gate in die grond grawe. Na twee dae is hulle klaar. Hannes kry die manne die dag daarna, op ‘n Donderdag, bymekaar en vertel die dieselprys gaan daardie selfde nag om middernag styg. Die senior plaaswerker, Jakobus, moet tien dromme van 200 liter elk in die skuur gaan oplaai, en dadelik met diesel gaan volmaak. Hy gee Jakobus ‘n dik pak note, en Jakobus en ‘n paar mede-werkers ry met die groot bakkie vulstasie toe. ‘Wanneer julle terugkom, moet julle die diesel in die gat begrawe’. So gesê, so gedaan. Die manne het teruggekom, die dromme afgelaai, en gedoen wat hulle gevra is om te doen. Teen sononder gaan hulle na Hannes toe om te vertel die ding is gedoen. Jakobus klim uit die vragmotor en roep na Hannes. Hy kom uit die huis uit en stap nader. ‘Oom, ons het die diesel klaar begrawe. Moet ons die leë dromme weer in die skuur gaan pak?’ Hannes word doodsbleek. ‘Leë dromme, wwwat bbedoel jy met llleë ddddromme?’
Hy sak inmekaar. Dit was sy laaste woorde. Die werkers moes weer hul grawe gaan haal.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
