Johan Pretorius: Donald Trump, die groot verdeler
Die uwe maak geen geheim daarvan dat ek Trump nie kan verdra nie.
Die uwe probeer nou lankal reeds om President Donald Trump in berigte te vermy weens die kwaai verdelende faktor wat hy is, maar die internasionale gebeure weens die ernstige verwikkeling ivm. Iran die afgelope paar weke maak dit onmoontlik om hom steeds te ignoreer. Hy oorheers die nuustoneel heeltemal.
Hoewel Trump steeds sterk steun het onder sy eie mense en in die besonder die MAGA-beweging, is daar miljoene in sy eie land wat hom deesdae nie net teenstaan nie, maar verpes, onder meer weens sy persoonlikheid, en sy doen en late oor die jare. Hy het feitlik geen steun onder wêreldleiers nie, en sy groot Europese bondgenoor, Viktor Orban van Hongarye is pas uit die kussings gelig. Die groot uitsondering is natuurlik Benjamin Netanyahu van Israel, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag.
Die uwe maak geen geheim daarvan dat ek Trump nie kan verdra nie. En vra geen verskoning daarvoor nie. Wat ek gladnie kan verstaan nje, is dat daar nog soveel Suid-Afrikaners is wat niks verkeerd van die man wil hoor nie. Veral nie na die beeld wat hy op sy webwerf Truth Social geplaas het waarin hy as Jesus Christus uitgebeeld word. Die ervare joernalis Ali van Wyk het op die webwerf Binne+Kring ’n weldeurdagte kommentaarstuk oor Trump geskryf.
Hy meen Boeremense erken baie moeilik dat hulle verkeerd was. ‘As ek ’n MAGA-Afrikaner was,’ sê hy, ‘sou ek in hierdie stadium begin wonder het of ek nie dalk op die mank perd gewed het nie. Tog sien jy oral op sosiale media jong mense, ooms en tannies wat op ’n kultusagtige manier volhou dat dit alles deel is van Trump se groter plan vir ’n nuwe wêreldorde’. Hy verwys na die goeie maniere van mense in sy jeugjare, met die klem op ordentlikheid, besadigdheid en eenvormigdheid. Daar was geen performtiewe gedrag soos windmakerige haarstyle, oorbelle vir mans, borshare wat by oopknoophemde uitspruit, of uitspattige, goue binneshuise versiering nie. Die soort dinge is as laeklas beskou.
Ali van Wyk vra dieselfde vraag as wat ek myself herhaaldelik vra. Waarom hou so baie Boere van Trump? Hy het mettertyd besef die kwessie is nie wie Trump wesenlik is nie; maar dit handel oor toegang tot mag vir gemeenskappe wat dit andersins nie het nie. Trump is amper soos ’n multi-kragprop waarby gemeenskappe inprop om invloed te verkry. As hy ’n geniale streep het, is dit hier: Hy verstaan hoe om vergete gemeenskappe in ’n magtige stemblok saam te snoer.
Wanneer jy MAGA-Afrikaners vra hoekom hulle Trump steun, is ’n gewilde antwoord: ‘Hy doen ten minste iets’ of ‘hy staan op vir sy mense’. Wat hy nie noem nie, maar wat ek gereeld hoor ter verdediging van Trump, is dat hy Israel, die uitverkore volk, steun, en ’n Christen is wat die geloof weer voorop in Amerika stel. Ten spyte daarvan dat hy nie oor die Bybel wil praat nie ‘want dis ’n persoonlike saak’. Geen Bybelvers kan aanhaal nie en verklaar hy het geen voorkeur vir die Ou of Nuwe Testament nie. Hy hou eweveel van albei. Hy het ook nie sy hand op die Bybel geplaas toe hy ingehuldig is nie.
Van Wyk wys daarop Afrikanerleiers was tradisioneel meestal sterk en kragdadig, en Afrikaners soek weer so iemand. ’n Liberale momentum wat ná die Tweede Wêreldoorlog ontstaan en in die 1990’s ’n hoogtepunt bereik het, speel ook ’n rol: ’n Kultuur van menseregte, maatskaplike welsyn, regstellende aksie, gelyke geleenthede en nog ander volksvreemde dinge. Van Wyk meen FW de Klerk word bv. deur regses beskou as ’n sentristiese politikus met ’n gladde bek wat belowe het daar sou nie kompromieë wees oor magsdeling nie en dat daar oral in die nuwe grondwet ‘wigte en teenwigte’ ingebou sou wees, terwyl ons uiteindelik doodgewone swart oorheersing gekry het. Die redenasie is waarskynlik: Gee ons dan maar eerder ’n ou soos Donald Trump, wat nie mooibroodjies bak en dan verbrande patats voorsit nie.
Vir Van Wyk, en ook vir myself, is die moeilikste om te verstaan waarom Evangeliese Christene en sommige Afrikaanse Christene hom as ’n soort redder beskou. Hy is maar ’n ou rakker en God is steeds vir hom lief. Hy is soos koning Dawid: feilbaar, veral as dit by mooi vroue kom, maar hy bly ’n man na God se hart. My eie mening hieroor is eenvoudig: Hulle is totaal on- en waningelig oor wie en wat Trump is omdat hulle die HSM vermy en op Trump se digitale propagandabronne staatmaak. Trump en sy MAGA’s misbruik die Christelike godsdiens en liefde vir Israel om volgelinge te laat dink hy het die Christelike godsdiens weer sy regmatige plek gegee, Amerika ’n Christelike land gemaak en die bose magte van Islam die stryd aangesê.
Ek stem saam met Van Wyk Trump kan niks vir wit Afrikaners doen nie, al glo sommige MAGA-Boere hy sal Suid-Afrika kom binneval en die ANC ’n les leer. Dié hoop is ’n illusie. En binnekort is hy dalk ’n president sonder enige mag, of dalk heeltemal weg. Van Wyk eindig met die stelling die oorsaak van Afrikaanse Trumpisme is maar net apartheid-nostalgie – ’n verlange na ’n wêreld waar wit mense nooit hoef te veg om bo uit te kom nie, waar wit superioriteit nooit bevraagteken word nie. Hoe dit ookal sy, hy is op die oomblik die grootste verdelende faktor in sy eie land en in die res van die wêreld.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
