Stiltetyd: Kry jy hemelse dividende?
Jesus wys in Matteus 6:19-21 aan ons hoekom elkeen van Sy volgelinge ’n belegging in die hemel moet hê.
Enigiemand wat êrens ’n ou geldjie belê het met die oog op groei, sal bekend wees met die woordjie dividende. Dit is mos die deel van ’n maatskappy se verdienste wat aan aandeelhouers uitbetaal word. As die dividende wat uitbetaal word goed is, juig ons. As dit swak is, huil ons. Jesus wys in Matteus 6:19-21 aan ons hoekom elkeen van Sy volgelinge ’n belegging in die hemel moet hê.
Nou moet u dit nie verkeerd verstaan nie. Die Skrif oordeel nie negatief oor hierdie aarde nie. Elders in die Bybel, in Genesis word Josef, die onderkoning van Egipte byvoorbeeld aangeprys omdat hy skure gebou het om koring te berg in die maer jare van droogte. Dit het Egipte en die omliggende gebiede deurgedra ten tye van hongersnood. Die beginsel van verstandige bestuur van bronne is nie strydig met ons geloof nie. Wie elke maand ’n bedraggie wegsit, sal ’n neseier vir die oudag hê.
Jesus waarsku ons egter teen ’n te lae beleggingshorison. Wie opgaar en al ryker word en niks oorhet vir ander nie, sal ontdek dat alles waarop hy sy hart gesit het sal vergaan. Ons hier aan die Suidkus weet hoedat roes ons kosbare voertuie kan verniel. Ons weet van die diewe wat oral inbreek. Ons het almal seker al onder vismotte se vernielsug deurgeloop. Die Meester leer Sy volgelinge, jy en ek, dat wat ons weggee, hemelse dividende oplewer. Wanneer ons ons tyd, besittings, lewens, in diens van God stel, maak ons hemelse skatte bymekaar. Dit is dan Syne om weg te gee.
Waar jou skat is, sê Jesus, sal ook jou hart wees. Waarop sit jy jou hart? Wat is die dinge waarop jy staatmaak? Want dit is die dinge wat bepaal waar jou hart ook is. Het jou hart nie dalk gevangene geword van ander lojaliteite-jou werk, jou aansien, jou kennis, jou toekoms, jou veiligheid nie? Watter dividende lewer hierdie belegging vir jou op? Rus vir jou siel? Kom ons sê dit weer: Net wat ons weggee, lewer hemelse dividende op. Waaraan hou jy vas, of liewers wat hou jou vas?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
