Bring die hoop weer terug! So lui die woorde van een van Jo Black se liedere. Veral as mens verlies ervaar het, is die uitroep aktueel. Verlies kom in baie vorme – die dood van ’n geliefde, die einde van ’n verhouding, of selfs die verlies van ’n droom.
Dit laat ’n mens dikwels leeg, verward en soms sonder rigting. In sulke tye voel dit asof hoop buite bereik is. Tog spreek die Bybel juis in hierdie donker oomblikke ’n diep waarheid: God is nie afwesig in ons pyn nie. Psalm 34:19 sê: “Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.”
Hierdie woorde herinner ons daaraan dat God nie wag dat ons eers ‘regkom’ voordat Hy naby kom nie. Hy kom juis nader in ons seer. Die rouproses a verlies, is nie iets wat gejaag kan word nie. Dit is ’n proses wat tyd, eerlikheid en ruimte vra. Selfs Jesus het gehuil by die graf van Lasarus.
Klaagliedere 3:22-23 bring ’n sagte, maar kragtige woord van hoop: “Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja Sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut. Groot is U getrouheid selfs ná verlies, begin elke dag met ’n nuwe maat van genade. Hoe lyk hoop prakties ná verlies? Dit begin klein: om weer op te staan, om met iemand te praat, om God in gebed te nader – selfs al is dit net met ’n sug.
Hoop groei stadig, soos lig wat deur ’n skeur breek. Verlies verander ons, maar dit hoef ons nie te vernietig nie. In God se hande kan selfs ons diepste pyn plek maak vir genesing, groei en ’n nuwe toekoms. Hoop is nie die ontkenning van pyn nie—dit is die vertroue dat pyn nie die laaste woord het nie. Wanneer ons dink aan die kruis van Jesus Christus, besef ons dit opnuut. Die een kruiswoord spreek van Godverlatenheid: “My God, waarom?” Die ander kruiswoord spreek van berusting en oorgawe: “ Vader, in U hande gee ek my gees oor.” Jesus bring die hoop weer terug.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
