Wouter se Watergat: Gatvol Sharks, ek’s nou ‘n Lion
Ek het aanvanklik sterk gewonder on JP Pietersen beter kon doen as John Plumtree.
Ons hier in die Watergat is gatvol vir ons span die Sharks. Gatvol. Nes ons dink die mense in beheer kry hulle op koers, word ons vir die soveelste keer teleurgestel. Ek het aanvanklik sterk gewonder on JP Pietersen beter kon doen as John Plumtree. Hy het sy pak soos ’n man gevat, sy opvolger die beste toegewens, en toe Plumtree nog dink hy is betrokke, is hy nie meer nie. JP Pietersen het wonderlike belofte getoon, daar was ’n oplewing, en ek het my vraag of hy beter sou kon doen as Plumtree, teruggetrek. Dit was ’n fout. Nie noodwendig sy fout nie.
Die Sharks se hoop op ’n top agtplek in die VRK is verby. Hulle het ook weer misluk in hul strewe na die Investec-kampioenbeker-kompetisie. Dit ten spyte van hul duur aankope met grootnaam-Springbokke in hul geledere. Alles dui op ’n groot fout in die verhouding met die werwingsdepartement, iets wat reeds deur sportskrywers uitgewys is. Ons hier in die Watergat kan maar net soos ander ondersteuners van buite af kla.
Veral oor die bestuur wat blykbaar in ‘limbo’ is. Dis ’n onbetwisbare feit dat ander spanne met baie minder geld tot hul beskikking, soos die Bulls, die Stormers en veral die Lions, baie beter vaar. Gepraat van die Lions. Iets wonderliks het daar gebeur. Hulle speel nou soos kampioene. In so ‘n mate dat Oom Pottie in ekstase is toe ek hom vertel het vir die res van die seisoen is ek ’n Lion. Finish en klaar. Genuine.
Om die aandag van ons swartgalligheid af te trek: Student: “Prof verstaan u alles omtrent hierdie vak?”
Prof: “Ek sou so dink, anders sou ek sekerlik nie ‘n professor gewees het nie, sou ek?”
Student: “Goed Prof. Aangesien u so baie weet wil ek ’n ooreenkoms met u aangaan. Kan ek u ’n vraag vra, en as u korrek antwoord, sal ek my punte aanvaar nes dit is. As u egter nie korrek kan antwoord nie, is dit u plig om my ’n “A” te gee?”
Prof: “Hmmmmm goed. Wat is die vraag?”
Student: “Wat is wettig maar nie logies nie, logies maar nie wettig nie en ook nie logies of wettig nie?”
Die prof dink so al wat hy kan, maar kry nie ’n antwoord nie.
Hy gee toe maar vir die student ’n A en die student is hoog in sy noppies toe hy daar uitstap.
Die professor het die hele dag steeds gedink en gewroeg oor die vraag en besluit toe om ’n klompie van sy briljantste studente bymekaar te kry en vir hulle die vraag te vra.
Skaars het hy die vraag gevra of almal steek hul hande in die lug en die prof, met rooi wange van verleentheid, besluit om een van sy gunsteling-studente geleentheid te gee om die vraag te beantwoord.
“Dis eintlik maklik prof. U is 75 jaar oud en getroud met ’n 30 jarige vrou. Dis wettig maar nie logies nie.”
“U vrou het ’n skelm affair met ’n 22-jarige student. Dis logies maar nie wettig nie.”
“U vrou se skelmpie het sy eksamen gedruip maar u het hom ’n A gegee daarvoor. Dit is nie logies of wettig nie!”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
