Jou maag: Jou tweede brein
Troetel jy jou maagbrein genoeg? Hy bepaal hoe gelukkig, gesond en slim jy is.
Een van die verrassende nuwe denkrigtings van die afgelope dekade is dat jou dermkanaal net so ’n sterk beheer oor jou gevoelens, sensasies en denke het as wat jou brein daaroor het.
Volgens ‘n berig deur Salomé Delport wat op ons suster Caxton webtuitse ROOI ROSE verskyn het, is jou dermkanaal is letterlik jou tweede brein. Die derm word ook so genoem: waar die brein as jou sentrale senuweestelsel bekend staan, word jou dermkanaal as jou enteriese (derm-) senuweestelsel beskryf.
Volgens hierdie siening is jou derm veel meer as die plek waar ensieme kos afbreek. Die mikroflora daarin is in werklikheid aktiewe, kosbare medewerkers wat ’n hele reeks molekules help produseer wat elke aspek van jou liggaam beheer.
Kan jy jou dermflora aanhelp?
Moet jy solank probiotika gebruik, tot daar meer duidelikheid is? Dit is immers die beste beskikbare mediese ingryping.
Volgens dr. Michael Conlon van die Australiese Organisasie vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (SIRO), is vesel die kortste en verreweg die beste pad na ’n gelukkige mikro-bioom (soos jou dermkanaal en al sy mikro-organismes saam genoem word).
“Ons het aanvanklik gedink die vesel in groente is hoofsaaklik growwigheid wat die noodsaaklike volume verskaf om die dermkanaal op die konkrete manier te help ledig.
“Ons besef nou dit gaan eintlik oor fermentasie. Veral sekere dermflora het die vermoë om vesel te fermenteer. In die proses vervaardig hulle ook kortketting-vetsure, soos butiraat, asetaat en propionaat. Ons begin nou maar eers insien hoe noodsaaklik en voordelig hulle vir jou gesondheid is.
“Al die wonderlike nuwe bevindings trek ongelukkig ons aandag van die basiese beginsel af: jou mikrobioom smag na vesel.”
Planne vir jou dermflora
1 Eet met elke ete groente. Dit is die heel beste strategie. Hoe groter die verskeidenheid, hoe beter vir jou dermflora.
2 Beperk suiker en meel. Dit laat die verkeerde bakterieë floreer.
3 Eet Bulgaarse jogurt. Dit is nog beter as jy jou eie maak. Enige gefermenteerde kos, soos kombucha, kefir en sauerkraut help jou dermflora.
4 Oefen gereeld maar matig. Dit klink dalk vreemd, maar oefening help, volgens navorsingsresultate van die Universiteit van Salerno, Italië, wat in Maart 2017 verskyn het. Maar moenie oorboord gaan nie, want dit verminder en verander ook jou dermflora.
As jy probiotika koop
Lees die etiket en maak seker jy koop nét goeie produkte.
• Die syfers
Vir trefkrag moet dit genoeg organismes bevat, bv. “een honderd miljoen”, “100 000 000”, “108” of “een miljard CFUs”.
• Die spesies
Party bevat net een soort terwyl ander uit ’n kombinasie bestaan. Die CFU vir elke spesie moet soos hierbo wees.
• Die vervaldatum
Dit is nie meer doeltreffend daarna nie.
• Hoe moet jy dit bewaar?
Dis lewende organismes wat kan afsterf. Bêre en gebruik dit volgens die aanwysings op die etiket.
LEES DIE VOLLEDIGE ARTIKEL OP DIE ROOI ROSE WEBTUISTE
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on BBM 58F3D7A7 or WhatsApp 082 421 6033
