Volgens ‘n berig op on suster Caxton webtuiste Lowvelder, is die leuse vir 2018: Eerlikheid. Integriteit. Bewaar jou tyd.
Met ander woorde: moenie doekies omdraai nie, moenie tyd mors nie en hou op om ander se geite belangriker as jou geluk te ag.
Hoe gaan hierdie woorde 2018 só inkleur dat dit die beste jaar van jou lewe sal wees?
Daar is seker nie ‘n gekbestande (dis nou Afrikaans vir foolproof) resep vir geluk nie.
LEES OOK: Jy voel goor – is dit griep, of is dit dalk malaria?
Ek kan wel my wenresep vir ongelukkigheid met jou deel.
‘n Mens is ongelukkig wanneer jou innerlike oortuigings en jou uiterlike optrede nie ooreenstem nie.
Wanneer jy nie in ooreenstemming met jou innerlike waarhede, oortuigings en beginsels leef nie, maak jy jouself ongelukkig.
Hy wat in 2018 voluit wil leef, sal introspeksie moet doen en vasstel of hy die waarheid wat in sy hart geskryf staan, uitleef.
Integriteit is belangrik. Dit beteken dat jou dink en sê en doen ooreenstem. Om jouself te konfronteer en uit te wys waar dit nie die geval is nie, verg waagmoed. Hier is ‘n paar wenke wat die reis na ‘n gelukkiger jy kan vergemaklik.
1.) Laat jou “ja,” ja wees en jou “nee,” nee.
Bertha wil die nuutste animasieprent gaan kyk. Jy wil nie. Sê so.
“Ek hou nie van werklikheidsvervreemde vetkrytfilms nie, kom ons gaan kyk oor ‘n week iets anders,” is ‘n eerlike antwoord. ‘n Eerlike antwoord ontlok veel meer respek as ‘n klassieke leuen wat niemand in elk geval glo nie. Hoofpyne en maagvirusse is kodetaal vir “ek het nie die ruggraat om eerlik te wees en ‘nee dankie’ te sê nie.”
2.) Wit leuentjies is die wortel van baie kwaad.
“Lyk ek mooi in hierdie rok?” vra Susara met sterretjies in haar oë.

Die waarheid is dat sy soos ‘n jellievis lyk. Jy sê dit natuurlik nie, want jy wil haar gevoelens spaar.
“Jy lyk pragtig,” lieg jy.
Susara gaan dorp toe. Die hele dorp dink sy lyk soos ‘n jellievis, maar niemand sê iets nie. As jy eerlik was en haar aangeraai het om anders aan te trek, sou etenstafelgesprekke dorpswyd nie vanaand om Susara gedraai het nie.
Sies vir jou.
3.) Wees getrou aan hoe jy voel.
As jou sesde sintuig vir jou sê dat jy iets nie moet meemaak nie, verskoon jouself. As jy rus nodig het en iemand nooi jou vir ‘n aand uit, verduidelik dat jy nie wil gaan nie, omdat jy rus nodig het.
Hy wat dit nie verstaan nie, kan toekomstige kuiertjies op sy maag skryf.
‘n Afwesige jy is baie meer aangenaam as ‘n teenwoordige, knorrige en moeë jy.
4.) Maak jou vriendelikheid goedkoop, maar jou vriendskap duur.
Langenhoven het hom nie opgehou met niksnutse nie. Jy behoort hul ook te vermy.
Omring jouself in 2018 met kwaliteit mense. Spandeer tyd met hulle wat jou stimuleer en jou wêreld se horisonne verbreed met nuwe kennis en ervarings.
‘n Vriendskap moet waarde toevoeg.
Wees vriendelik, maar daar is geen nut daarin om ‘n vriendskap aan te knoop met iemand wat nie jou lewe verryk nie.
5.) Weet wanneer om bestaande menseverhoudings te laat vaar.
Soms bevriend ‘n mens iemand, net om met tyd agter te kom dat daardie persoon slegs op jou wil teer.
Soms taan ‘n vriendskap en slegs skuldgevoel hou dit aan die gang.
Partykeer stem twee vriende se waardes en beginsels net nie meer ooreen nie.
Vra jouself: Is dit nog vir my die moeite werd om tyd en moeite in hierdie vriendskap te belê?
As dit nie is nie, distansieer jouself.
Deur jouself daaraan toe te wy om iemand anders vir goed te verander, sal jy groot dele van jouself onnodig prysgee.
6.) Wees getrou aan jou eie waardes
“Waardes” is ‘n term wat soms verkeerd gebruik word. Dit verwys na jou eie, geïnternaliseerde riglyne vir jou lewe. Geen twee mense se waardestelsels is dieselfde nie. Jy kies deur die loop van jou lewe sekere waardes en orden dit in volgorde van belangrikheid. Wanneer ‘n mens in teenstryd met hierdie riglyne optree, voel jy ongemaklik.
Selfrespek en respek van ander word verkry wanneer jy die regte ding (in terme van jou eie waardestelsel) bly doen. Die regte besluit is dikwels ‘n ongewilde een.
Vir een ou is geld belangrik. Sy besluite draai daarom. Iemand anders sal bo alles lojaal wees, selfs al kos dit hom. Eerlikheid is weer vir ‘n derde só belangrik dat hy soms as minder lojaal voorkom, wanneer sy opinie ‘n vriend affronteer.
Moet nie jou waardes prysgee nie. Dit bring innerlike konflik en ongelukkigheid mee.
7.) As iets nie vir jou die beste is nie, los dit.
Jy weet diep binne-in jou hart wat vir jou die beste is. Tog wyk mense om verskeie redes van die beste af. Sulke optrede word meestal deur vrees veroorsaak.
‘n Man weet dat hy ‘n wonderlike vrou verdien, maar trou met die eerste beskikbare een. Hy doen dit omdat hy eensaamheid vrees. Hy sal eerder tweede beste aanvaar as om sonder iemand te wees.
‘n Meisie kies ‘n man wat haar sleg behandel, omdat sy vrees dat niemand anders van haar sal hou nie.
Jy weet dat jy verdien om die beste weergawe van jouself te wees, maar iets hou jou terug.
Jy weet jy moet gesond eet en oefen, maar jy los dit sommer heeltemal, omdat jy vrees dat jy dit nie sal kan volhou nie.
‘n Alkoholis neem nog ‘n drankie, want hy is bang dat die werklikheid hom sal seermaak of teleurstel. ‘n Besigheidsman vermy vooruitgang, want hy vrees terugslae – ‘n risiko inherent aan die troef van onbekende terrein.
Dink daaroor – vrees is ‘n illusie wat vooruitgang in die wiele ry. Basta daarmee!
8.) Besef dat die lewe jou niks skuld nie
Jy werk al tien jaar vir dieselfde maatskappy, maar word nie bevorder nie. Is dit jou baas se skuld? Nee.
Jy is al vir tien jaar lank ‘n staatmaker by die vrouevereniging, maar is nog nooit as voorsitter aangewys nie.
Eerder as om ander te blameer hiervoor, vra vir jouself: “Hoe kan ek my take meer effektief doen?” As jy reeds alles gee en dit nie erken word nie, behoort jy jou talente elders te gaan aanwend. As jy nie padgee waar jy nie waardeer word nie, is dit jou eie skuld.
Introspeksie maak die sluise tussen jou en jou suksesse oop.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on BBM 58F3D7A7 or WhatsApp 082 421 6033






