Die Leeus se jongelinge het erg aan die korste ent getrek toe ‘n volsterkte Haaie-span hulle met 57-14 afgeransel het.
Die Leeus en Haaie het in hul laaste opwarmingswedstryd Vrydagaand 7 Februarie kragte op Ellis Park kragte gemeet.
Die Leeus se afrigter, Johan Ackermann, het die stryd teen die Haaie aangepak met die hoop om spelers te identifiseer wat op Super Rugby-vlak kan meeding. Dat hy wyser na die wedstryd was oor wie die Leeus in die 2014 sal help om hul terugkeer in die gesogte kompetisie te maak, sal later duidelik word.
Ackermann het wel erken dat daar diepte in sekere sleutelposisies ontbreek, maar geharde spelers soos Franco van der Merwe, wat sy staal teen die Haaie Vrydagaand gewys het, Jaco Kriek en hul kaptein Warren Whiteley sal die span versterk.
Bees Roux, wat ‘n nekbesering tydens Vrydagaand se wedstryd opgedoen het, is reg om te speel. Geen ander spelers het in die kragmeting beserings opgedoen nie.
Talle spelers wat met beserings sukkel, is onder andere Elton Jantjies, Ruan Dreyer, Anthony Volmink. Hulle vordering word gemonitor en sal eersdaags hul verskyning op die veld maak. Die Leeus wag ook nog om te hoor van leenspslers wat nie by die ander spanne, Haaie, Cheetahs en Bulle ingeskakel is nie.
Die Leeus se span, wat teen die Cheetahs in hul eerste Super Rugby wedstryd speel, sal Donderdag 13 Februarie aangekondig word.
Die Leeus speel eerskomende Saterdag 15 Februarie in Bloemfontein teen die Cheetahs (17:05) en die Haaie meet kragte teen die Bulle (19:10).



