Seisoen se eerste Nasionale Enduro Motorfietsstryd
Nuwe Enduro Nasionale motorfietsren begin in alle erns.
FOUR Rivers Adventures in die Winterton-omgewing in die skilderagtige Champagne Valley is die slagveld vir die eerste ronde van die 2014 Liquorland Nasionale Enduromotorfietskampioenskap.
Met dié ren op Saterdag 22 Februarie het die nasionale seisoen amptelik geopen. Die land se beste enduromotorfietsdeelnemers was in aksie en het hul visier vroeg reeds op die kampioenskapstitels gerig.
Alle oë sal vanjaar op die huidige 17-jarige kampioen, Wade Young (Brother KTM) wees, iemand wat sy E1-nommer sowel as die 200cc-kampioenskap – dit heet nou die E1-kampioenskap – suksesvol sal wil verdedig. Hy sal goed voorbereid moet wees aangesien uiters strawwe mededinging vanjaar voorspel word. Die veelvuldige voormalige kampioene, Altus de Wet (Cargo-Tac Husqvarna Factory Racing) – hy het laas jaar net agter Young geëindig en het die Oopklaskampioenskap, wat nou die E2-kampioenskap heet, gewen – sowel as Young se spanmaat, Louwrens Mahoney, wat van ‘n enkelbesering herstel het, sal tussen dié ryers wees wat hoop dat hul ondervinding in hul guns tel.
Broadlink KTM sal ‘n groot span in die veld hê met die Nasionale Junior-Oopklaskampioen, Travis Teasdale, wat sy eerste volledige enduroseisoen sal aanpak, terwyl Scott Bouverie, wat Suid-Afrika se beste ryer tydens die 2013 Dak van Afrika-ren was en ‘n derde plek aangeteken het, nou van ‘n gewrigbesering herstel het.
Louw Schmidt en Tyron Miller sal ook op nasionale vlak deelneem. Dit is interessant om daarop te let dat al die ryers wat in 2013 tussen die voorste 12 algeheel geëindig het, vir die Liquorland Champagne Valley Enduro ingeskryf het; ‘n bewys van hoe mededingend die nasionale endurokampioenskap is.
Die Seniorklaskampioenskap wemel nie net van bekende name wat 2013 se top drie-ryers – die veelvuldige Seniorklaskampioen, William Gillitt (Liquorland Racing Yamaha); Bruce May (Yamaha) wat tweede was en Jody Engelbrecht (TLB Plant KTM) – insluit nie, maar ook ‘n paar name van ryers wat weer tot die sport teruggekeer het. Gillitt se spanmaat, Steven Landman, asook Mark Fox (KTM) sal ná ‘n afwesigheid van ‘n paar maande weer in aksie wees, terwyl gereelde ryers soos Matthew Barker (Yamaha) – hy het die seisoen in die vierde plek afgesluit – Peter Jung (KTM) en die veringstelselkenner, Hilton Hayward (Yamaha), ook tot die kompetisie sal bydra.
Die nuwe Hoërskoolklaskampioenskap het o.a. die 2013-wenner van die Junior enduroklas, Dean Lindsay (Yamaha) getrek, wat ook die huidige Nasionale Juniorveldrenkampioen van die Senior 85cc-klas is. ‘n Paar jong en talentvolle ryers tussen 14 en 16 jaar, waarvan die meeste van KwaZulu-Natal is, sal ook op die wegspringrooster aantree en vir die titel mik.



