By Hom is alles moontlik!
Het u al ooit daaraan gedink hoe ‘n kragtige belofte ons in God het?

Hy belowe ons in Sy woord dat ons tot alles in staat is deur Sy krag! So dikwels kom ons voor ‘n probleem te staan. Ons weet nie herwaarts of derwaarts. Jy voel miskien hierdie probleem is vir jou te moeilik; jy kan nie oor hierdie berg klim nie! Maar, lees gerus in Filippense 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” Maak hierdie verse jou eie – jy kan hierdie hoogte uitkom; jy kan oor hierdie berg klim; NIKS is by God onmoontlik nie.
Maak net op Sy krag staat, glo en vertrou hom en Hy sal jou hoë hoogtes laat betree. Jy kan Hom met enigiets in jou lewe vertrou! Hy maak ‘n pad waar daar nie ‘n pad is nie – vertrou Hom net!
As kind, onthou ek, het ons altyd as ons onseker of bang was oor iets wat ons moeilik gevind het om te doen, onsself met die volgende woorde/gedagtes aangepor nl.:“Ek kan, ek mag, ek sal, ens.”, dan het ons bietjie meer moed gevind om dit te doen. Sal dit nie wonderlik wees as ons die volgende reel ook op ons lewens toepas nie, nl. “My God kan, my God wil, my God sal, my God gaan”!
As ons vertroue so in Hom kan wees dat ons sal weet dat Hy kan en dat Hy gaan! – dat ons vertroue so onwrikbaar in Hom sal wees dat ons geen oomblik sal twyfel nie.
Ja, ons sê partykeer ons glo en vertrou maar, hier diep binne ons……..? Jesus belowe ons in Sy woord dat indien ons slegs die geloof so groot soos ‘n mostertsaad het, ons berge sal kan versit! Whow! Besef U hoe ‘n kragtige woord is dit! ‘n Mostertsaadjie is so klein dat jy dit net-net met die oog kan sien. Kan ons geloof dan maar net so klein wees, dat ons dan ‘n berg sal kan versit? Hoeveel te meer dan die alledaagse dinge waarin ons Hom so moeilik vertrou?
Jesus kan en Hy wil!
Glo en vertrou Hom net!!



